OUDTSHOORN RUGBYNUUS - Dysselsdorp Rangers-rugbyklub het verlede Saterdag op Outeniquapark in George vir Haarlem Swingz in 'n titaniese SWD Karoostreek-eindstryd met 7 - 3 geklop nadat die eerste helfte geen punte opgelewer het nie.
Die wedstryd is gekenmerk deur hardnekkige verdediging en was ook teen 'n hoë tempo gespeel; 'n testament van beide spanne se fiksheid.
Alhoewel Rangers in die eerste helfte vier strafskoppe na die pale verbrou het, was hulle ietwat gelukkig dat hulle nie 'n duur prys daarvoor betaal het nie.
Hul losskakel, Brendon Gertse, het diep in die tweede helfte die wedstryd se eerste en enigste drie gedruk wat deur Desnut Oktober (skrumskakel) verdoel is.
Swingz het regdeur die wedstryd belowend aangeval, maar is telkemale deur Rangers se rotsvaste verdediging gestuit.
Hierdie oorwinning beteken dat Rangers bevorder word na die SWD Super B-liga.
In die voorafgaande Oudtshoorn Landelike Rugbyvoetbalunie-eindstryd het Groot Kraal Kavaliers vir Lategansvlei oortuigend met 34 - 3 verslaan.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'