OUDTSHOORN RUGBYNUUS - Perseverance-rugbyklub het verlede Saterdag by Saturnus Primêr 'n drie uur lange ontwikkelings-afrigtingskliniek gehou. Sowat 120 laerskoolleerders van die skool is deur die klub se afrigters touwys gemaak in basiese vaardighede en balhantering.
Volgens Greg Baartman, woordvoerder van die klub, is dié slypsessie in lyn met die klub se doelwitte om jong spelers in Oudtshoorn-omgewing te ontwikkel.
"Die feit dat ons klub se aansoek vir toelating tot die SWD se Karoostreekliga verlede jaar deur die SWD-rugbyunie afgekeur is, gaan ons nie van stryk bring nie. Ons is tans besig met regsaksie om dié beslissing te betwis.
"Totdat ons meer duidelikheid kry oor ons posisie as 'n funksionele klub, sal ons onverpoos voortgaan met ons afrigting vir die jeug omdat daar op die oomblik 'n groot leemte vir ontwikkeling is."
Die klub beoog om ook afrigtingsklinieke by verskillende skole op Oudtshoorn soos Bongolethu en Laerskool Wesbank in die nabye toekoms aan te bied. Vir enige navrae skakel Greg Baartman by 073 411 7112.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'