OUDTSHOORN RUGBYNUUS - Perseverance-rugbyklub het verlede Donderdag tydens die klub se algemene ledevergadering by Thusong-sentrum sy interim bestuur demokraties met 'n volwaardige bestuur vervang.
Perseverance het homself in 1992 na die stigting van Bridgton-rugbyklub weens politiese redes onaktief verklaar.
Die SWD-rugbyunie het November verlede jaar tydens dié unie se algemene jaar vergadering (AJV) besluit om nie Perseverance-rugbyklub in die Karoostreek toe te laat nie omdat dié klub glo destyds permanent ontbind het.
Nog 'n rede waarom dié klub afgekeur is was omdat daar van mening was dat Perseverance glo spelers van ander klubs sou afrokkel.
Die klub is ook van mening dat Persies se aansoek en tersaaklike dokumente nooit aan die onderskeie rugbyklubs voorgehou is nie wat volgens die klub glo 'n invloed gehad omdat die meerderheid klubs teen Perseverance se toelating gestem het.
Tydens Donderdag se vergadering het dié klub se prokureur, Gideon Badenhorst die lede kom inlig oor die regsprosesse wat tans aan die gang is en word 'n antwoord afgewag vanaf SWD-rugbyunie oor die vrystelling van die bandopname van 30 November 2019 se AJV.
Ondanks die stryd om toelating tot die SWD-rugbyunie se rugbystrukture het Perseverance onlangs 'n ontwikkeling-afrigtingskliniek by Saturnus Primêr gehou waaraan 120 leerders deelgeneem het.
Volgens Greg Baartman, amptelike woordvoerder van Perseverance, is een van die klub se doelwitte om jong swart spelers in Bongolethu te ontwikkel en te betrek by die klub om belangstelling in rugby in dié woonbuurt aan te wakker.
Hy sê dat die klub ook bekommerd is oor die groot getalle plaaslike blanke spelers wat nie aktief by rugby betrokke is nie. Perseverance se missie is ook om vir hierdie spelers 'n rugbytuiste te skep waar hulle kan floreer op sportgebied.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'