OUDTSHOORN NUUS - Die Uitdaagbeker-halfeindstryde het die naweek op die REC-sportterrein in Oudtshoorn vir uitstekende rugby gesorg, met Oudtshoorn se eerste en derde span wat met oortuigende oorwinnings hul plek in die eindstryde beklink het.
Soos dit 'n halfeindstryd betaam, was albei wedstryde fisiek en passievol met geen span wat bereid was om 'n tree terug te staan nie.
Oudtshoorn se derde span het eerste teen Riverside Blues kragte gemeet. Van die eerste afskop af was dit 'n harde, fisieke stryd, met albei spanne wat gewys het waarom hulle die uitspeelrondes gehaal het.
Namate die wedstryd gevorder het, het Oudtshoorn se voorspelers egter toenemend beheer oorgeneem. Veral in die losskrums en lynstane is groot druk op Riverside Blues geplaas, wat die grondslag vir Oudtshoorn se oorwinning van 31 - 15 gelê het.
Die sege beteken dat Oudtshoorn se derde span nou in die eindstryd teen Blanco te staan kom.
Volgens Gerhard Lourens, eerstespan-afrigter, was die eerste span se kragmeting teen Harlequins ongetwyfeld die hoogtepunt van die naweek.
"Dit was 'n titaniese stryd tussen twee spanne wat geweier het om tou op te gooi, met die uitslag tot in die laaste minute in die weegskaal." Oudtshoorn se oorheersing in die lynstane het die platform vir vinnige en aanvallende rugby geskep.
Met slegs vyf minute oor was die telling 24 elk. Oudtshoorn se skopper, Charlton Prinsloo, het egter onder druk kalm gebly en 'n belangrike strafskop deur die pale gestuur om sy span met 27 - 24 voor te laat loop.
Harlequins het met minder as 'n minuut oor nog 'n geleentheid gehad om die telling gelyk te maak en ekstra tyd af te dwing, maar die strafskop was mis.
"Nou wag George in die eindstryd, 'n kragmeting wat beloof om 'n besondere rugbywedstryd te wees. Met die geskiedenis tussen die twee spanne en 'n Uitdaagbekertitel op die spel, kan ondersteuners uitsien na nóg 'n titaniese botsing."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’