De Jager het in 1997 aan Hoërskool Oudtshoorn gematrikuleer. In '96 en '97 draf hy vir die skool se eerstespan uit om opponerende hakers in die skrums te karnuffel. In '97 speel hy ook haker vir die SWD Cravenweekspan. Nadat hy sy graad aan die Universiteit van die Vrystaat behaal het, is hy in 2007 na die Kaaimanseilande.
Daar het hy begin werk by Cayman Management Ltd. asook die sustersmaatskappy, CSI International Underwriting (Cayman). Vandag bekleë hy die titel Captive Insurance Manager.
"Dit is `n voorreg om elke oggend op `n paradyseiland wakker te word," vertel De Jager. JS is die seun van Gerhardus en Adri de Jager van Oudtshoorn.
Hy het in 2007 aangesluit by die klubspan John Doak Architecture Iguanas. Dit is een van vier klubs wat elke seisoen meeding om die AA Cup-liga asook Dart Vase Knockout Cup. Mettertyd het hy besef dat hy `n goeie kans staan om die nasionale span te haal. En so het hy harder begin oefen. Volgens internasionale regulasies moet `n inwoner drie jaar permanent in die land woonagtig wees alvorens hy verkiesbaar is.
"Ek het dus in September 2010 gekwalifiseer en saam met die nasionale oefengroep begin oefen. Ek was gelukkig genoeg om vir die 2011 Karibiese Kampioenskapstoernooi gekies te word."
De Jager het sy toetsdebuut op 16 April 2011 teen Jamaika gemaak. Daarna het hy ook teen Mexiko gespeel. En sedertdien is hy `n instelling in die span. In 2012 het hy reeds wedstryde gespeel teen Jamaika, Mexiko, Bermuda en Bahamas.
De Jager vertel dat daar vyf Suid-Afrikaners in die nasionale span is. Die hele span bestaan eintlik uit "'n goeie mengsel van spelers wat oorspronklik van Engeland, Australië, Ierland, Skotland, Wallis, Fidji en natuurlik van die Kaaimanseilande afkomstig is."
Nadat die Kaaimanseilande hul wedstryd teen die Bahamas verloor het, moes hulle `n goeie oorwinning teen Bermuda behaal om hulself `n kans te bied om tot die finale van die kampioenskappe deur te dring. `n Bonuspunt oorwinning van 27-7 oor Bermuda het uiteindelik ook beteken dat die span `n paar plekke met die wêreldranglys kon opskuif.

De Jager staan agter, vyfde van links.