OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn-rugbyklub se A-span het verlede Woensdag vir 'n groot verrassing gesorg toe hulle Harlequins met 24 - 22 by die Oudtshoorn-sportterrein in 'n SWD Eersteliga-Oos-wedstryd geklop het.
Die halftydtelling was 15 - 10 in Harlequins se guns en dit was ook laasgenoemde se eerste nederlaag vir die seisoen.
Oudtshoorn se drieë is deur Bertie de Bod, Charl Marais en Ruan Venter gedruk.
Juan Heunis het twee doelskoppe en 'n strafskop oorgeskop. Attie Coetzee was ook suksesvol met een doelskop. Met hierdie oorwinning het Oudtshoorn nou na 12 wedstryde opgeskuif na die vyfde plek op die algehele punteleer.
Harlequins beklee steeds die eerste posisie op die punteleer met 54 punte. In 'n voorwedstryd het Oudtshoorn RFC Old Boys gewen teen 'n uitnodigingspan van die koöperasie.
Oudtshoorn se volgende wedstryd is Vrydagaand (môreaand) by die Oudtshoorn-sportterrein teen Willowmore.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'