Die span is verlede Saterdag op die Bridgton-sportterrein met agt drieë teen een afgeransel deur Despatch en daar sal nou hard kop gekrap word oor die pad vorentoe. Die finale telling was 54-7 en die besoekers het hul bonuspunt drie reeds in die eerste helfte gedruk.
Despatch, wat die kompetisie in 2013 gewen het, het van selfvertroue oorgeloop en van meet af die kantlyn opgesoek in hul strewe na die bonuspunt.
Dit was Bridgton wat van die afskop verwoed aangeval het wat uiteindelik in die sesde mi-nuut van die wedstryd tot `n strafskop gelei het.
Adriaan Booysen (buitesenter) het na die pale gemik maar kon nie verdoel nie. Die span het ook `n terugslag beleef toe hul ster-vleuel, Charlie Ewerts die veld in die 10de minuut moes verlaat weens `n enkelbesering. Baldwin McBean, wat nog verlede jaar vir die SWD Arende uitgedraf het en ook die Oostelike Provinsie en Griekwas verteenwoordig het, is reeds in die 11de minuut oor vir die eerste van sy drieë.
Losskakel Monty Dumond, `n speler wat ervaring opgedoen het by die Haaie, Luiperds, WP, asook klubspanne in Italië en Frankryk, het die telbord laat aanhou rol met sy skopvoet. McBean is weer in die 18de minuut oor vir `n drie waarna Booysen nog `n strafskop-poging gemis het.
Dumond het in die 26ste minuut self gaan druk en verdoel. Kort voor en na halftyd het Despatch weer so gemaak om nog punte by te voeg.
Algernon Waarts se drie in die 49ste minuut het hoop vir die tuisspan laat opvlam. Despatch se verdediging was egter deurgaans vlymskerp. Drie drieë in die laaste vyftien minute het die besoekers se oorheersing onderstreep.
Despatch se Michael Vermaak, wat in die verlede vir die Vrystaatse Cheetahs, SWD, OP en die Valke gespeel het, het voorlangs `n barshou vir sy span gespeel. En as Saterdag se wedstryd as barometer dien vir die stand van klubrugby in SWD, is dit juis name soos Vermaak, McBean en Dumond wat mens laat sidder.
`n Meevallertjie van die plaaslike munisipaliteit en `n paar donateurs help dalk om die bus vol petrol te maak en `n paar toebroodjies vir padkos te koop. Maar `n professionele span wat groot trofeë kan wen, is veel duurder.
Regan Behrands probeer ontslae raak van Despatch se Michael Vermaak.