RUGBYNUUS - Die SWD Arende het sy onoorwonne status in die Curriebeker se Eersteliga behou met sy tweede gelykopuitslag - dié teen die Griffons verlede Saterdag op Welkom.
Op Welkom sal menige span met 'n telling van 36-36 tevrede wees, maar diep in hul harte besef die Arende hulle moes dié ene gewen het.
As jy met rustyd met 23-17 voorloop en kort na die draaislag jou bonuspuntdrie gaan druk om met 30-24 voor te loop, is jou teenstanders met die rug teen die muur en dirigeer jy die orkes.
Die besluit van sy kaptein, Wayne Wilschut, om nie die strafskop reg voor die pale te neem nie en eerder kantlyn toe te skop, het ongelukkig geboemerang. Dié besluit kon net sowel in 'n sewepunter omskep gewees het.
Die Luiperds het, soos die noodlot dit wou hê, die lynstaanbal gewen, aangeval en met 'n drie teruggeslaan.
Die tuisspan het in die doodsnikke, nadat die toeter al gedruk is, gaan druk om 'n gelykopuitslag af te dwing. Hartverskeurend, maar nou ja ...
Die Griffons het ses drieë teenoor die Arende se vyf gedruk.
Maar hulle sal dit toegee dat die Arende verdien het om te wen. Die tuisspan het misluk met drie doelskoppe terwyl die Arende-losskakel, Gerhard Nortier, met twee onsuksesvol was. Sy strafskop was deurslaggewend.
Eddie Myners, hoofafrigter van die Arende, het aan die George Herald gesê hy is trots op sy spelers wat met elke wedstryd beter saamspeel.
"Ek respekteer die kapteinsbesluit, want ons kon net sowel van daardie lynstaan af gaan druk het. Ons het puik geskrum en ons lynstaanwerk was beter. Agterlangs het die manne geskitter."
Vir die Arende het Etienne Oosthuizen (slot), Freginald Africa (flank), Curshwon Mono elk 'n drie gedruk en die nuwe aanwins, Shane Ball (heelagter) het twee keer agter die doellyn gaan draai. Nortier het altesame 11 punte met vier doelskoppe en 'n strafskop aangeteken.
Vrydagaand pak die Arende die Boland-Kavaliers op Outeniquapark. Wen hulle dié belangrike derby, is hulle verseker van 'n plek in die halfeindstryd.
Van daar af is hul pad makliker met die OP Olifante en die Grens-Bulldogs wat wag.
Die Bolanders het hul vorige kragmeting in die Rosemoor-stadion gewen.
"Ons het dus onafgehandelde besigheid, maar ons weet die Bolanders het nou maar 'n manier om jou op jou tuisveld te pootjie. Maar ons is gereed daarvoor."
Wees gewaarsku: die OP Olifante het die Boland verlede naweek 'n gunsie bewys deur hulle met 39-38 te klop.
Die wynboere gaan op hul pasoppens wees.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'