OUDTSHOORN NUUS - Twee rugbyuitvoerprodukte van Oudtshoorn, Camden-Jay Schoeman en Antonio Bruiners, is verlede week in die SA skolespan opgeneem na uitmuntende vertonings tydens die onlangse Cravenweek-toernooi wat in Kaapstad gehou is.
Wat hierdie prestasie selfs meer besonder maak is dat Schoeman aangewys is as kaptein van die SA skole A-span (akademiespan). Schoeman (agsteman) en Bruiners (senter), wat toevallig ook neefs is, is gr. 12-leerders van Hoërskool Outeniqua en was ook onderskeidelik onderkaptein en kaptein vir SWD tydens dié toernooi.
Camden-Jay Schoeman
Schoeman se pa, Tyrone, het aan Oudtshoorn Courant gesê dat sy seun van jongs af baie geïnteresseerd was in rugby.
"Camden het maar grootgeword op my skoot en altyd saam met my rugby gekyk. Met sy heel eerste wedstryd in gr. 1 het ek en sy ma reeds besef hoe lief hy regtig is om rugby te speel en daar het alles begin. Van toe af het hy nog net groot drome vir die sport gehad. Op skool het Camden ook aan 100 m en gewigstoot deelgeneem vir die spesifieke doel om sy rugbyspoed en krag te verbeter."
Schoeman senior vertel dat die pad na sukses nie altyd rooskleurig was vir Camden nie en dat hy op o.13 SWD-vlak sowel as o.16-vlak (weens Covid-19), nie eers die span gehaal het nie.
"Dit was 'n baie hartseer tyd vir hom, maar gelukkig het hy homself besig gehou met gimnasiumoefeninge en het hy ook gesond bly eet en baie gebid. As sy ouers, het ons hom daagliks ondersteun en gemotiveer. Iets wat vir my uitstaan van Camden is dat hy nooit moed verloor het om die Cravenweek o.18-span te haal nie ondanks sy terugslae; dit het hom net hongerder gemaak vir sukses."
Benewens Camden se sportprestasies dien hy ook vanjaar op die gr. 12-leerlingraad sowel as die koshuisleerlingraad en is hy ook voorsitter van die geeskomitee.
Na skool beplan hy om in 'n besigheidsrigting te studeer wat ook 'n groot passie vir hom is terwyl hy sy rugbyloopbaanopsies sal oorweeg.
Antonio Bruiners
Antonio se ouers, Johann en Antionette Bruiners bars ook uit hul nate van trots op hul seun se prestasie.
Antonio is die hoofseun van Hoërskool Outeniqua se BTH-koshuis en is geen vreemdeling vir die kollig nie.
In 2020 het sy eie 100 m-hekkiesrekord by die Spar Top-10-atletiekbyeenkoms gebreek en is hy ook al in die SWD o.15- en 13-krieketspan opgeneem.
Die res van sy sportprestasies is as volg:
- SWD atletiekkleure -100 m en 80 m.
- 2020 Oudtshoorn-burgemeester sportman van die jaar.
- SWD Laerskool sportman van die jaar.
- Kaptein o.13 SWD-sewesrugbyspan sowel as o.12 SWD-rugbykaptein.
Volgens Antionette is haar seun, wat ook op die Kwagga-raad dien, 'n baie skrander leerder wat definitief ook na skool verder sal studeer tussendeur sy rugbyloopbaan.
Sy vertel dat Antonio slegs drie jaar oud was toe hy sy broer Jean, wat ook vele toekennings as sportman ingepalm het, as rolmodel geïdentifiseer het.
"Hy het toe reeds vir my en sy pa gesê dat hy soos sy boeta Jean wil wees, maar terselfdertyd ook op akademiese gebied wil uitblink. Dit het hy oor die jare oor en oor bewys en sy drome as driejarige seuntjie het waar geword met behulp van sy geloof in ons Hemelse Vader. Selfs sy pa was op sy dae 'n sportman van formaat en het jaar in en jaar uit belê in sy seuns se sporttalente. Die feit dat Antonio nou die SA skolespan gehaal het, is 'n absolute testament van sy toewyding en dissipline om sy drome na te jaag."
So het SWD gevaar tydens die Cravenweek:
- SWD klop Vrystaat 29 - 19
- Blou Bulle klop SWD 34 - 15
- Sharks klop SWD 20 - 13
Die SA skolespan en hul A-span speel Saterdag die voorwedstryd in die derde toetswedstryd in Kaapstad tussen die Springbokke en Wallis.
Antonio Bruiners probeer 'n verdediger ontduik.
Camden-Jay Schoeman in aksie tydens die Cravenweek-toernooi. Foto's: verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Karoo nuus'