OUDTSHOORN RUGBYNUUS - Die besluit van die SWD-rugbyunie om nie Perseverance-rugbyklub in die Karoostreek toe te laat nie het finansiële implikasies vir dié unie nadat die Oudtshoorn-munisipaliteit vandeesweek aangedui het dat finansiële steun aan dié unie voortaan onbepaald opgeskort gaan word.
Volgens Lluwellyn Coetzee (munisipaliteit strategiese dienste), is dié besluit eenparig verlede Donderdag tydens 'n raadsvergadering deur die raad ondersteun ter wille van integrasie in rugby asook in belang van algehele sportontwikkeling op die dorp.
Coetzee het dit egter duidelik gestel dat die munisipaliteit geensins die SWD se klubrugbystrukture toegang tot sy fasiliteite (Bridgton-sportterrein en die Oudtshoorn-sportterrein) in die toekoms sal weier nie.
"So 'n besluit sal plaaslike sport tot stilstand ruk - iets waarvoor die Oudtshoorn-munisipaliteit nie te vinde is nie," het Coetzee benadruk.
Perseverance-rugbyklub se aansoek vir toelating tot die SWD se Karoostreekliga is op 15 Oktober tydens die SWD Karoostreek se algemene jaarvergadering (AJV) afgekeur. Hierdie besluit is op 30 November by die SWD-rugbyunie se AJV bevestig.
Die SWD-rugbyunie het ook 'n aanbeveling gemaak dat Perseverance-rugbyklub eers in die SWD Landelike ligatoernooi moet meeding en op dié manier na die unie se Karoostreek-, president- en uiteindelik premierliga vorder.
Perseverance, wat homself in 1992 na die stigting van Bridgton-rugbyklub weens politiese redes onaktief verklaar het, het in Augustus vanjaar sy eerste ope vergadering sedertdien gehou waartydens dié klub 'n nuwe interim bestuur gekies het.
Een van die redes waarom die SWD - rugbyunie Perseverance se aansoek reeds by die Karoostreekliga se algemene jaarvergadering afgekeur het, was juis oor dié klub nie oor 'n volwaardige bestuur beskik het nie.
Die ander redes volgens 'n dokument wat in die Oudtshoorn Courant se besit is, maak melding daarvan dat spelers wat tans by bestaande klubs geregistreer is, ook by Perseverance -rugbyklub mag aansluit.
Volgens dié dokument bestaan daar ook onduidelikheid of Perseverance in die eerste plek "ontbind" het om saam te smelt met Bridgton-rugbyklub, al dan nie. Daar is ook twyfel of die 25 etniese swart spelers uit die klub se amptelike 72 gelyste spelers, wel uit die plaaslike swart woongebied afkomstig is.
Perseverance het op 19 November via hul prokureur 'n skrywe aan die SWD Karoostreek gerig om dié streek te dwing om 'n beslissing ten opsigte van hul toelating tot die Karoostreekliga te maak.
In hul antwoord op dié prokureursbrief het die SWD-rugbyunie dit duidelik gemaak dat Perseverance se regsoptrede vroegtydig was omdat dit slegs die SWD-rugbyunie is wat 'n bindende besluit oor affiliasie aangeleenthede kan maak. Die SWD-rugbyunie se beslissende algemene jaarvergadering was eers op die 30ste November in George gehou.
Die interim-bestuurslede van Perseverance-rugbyklub is voor, van links: Cedric Alkana (sekretaris), Carlos Biljohn (voorsitter), Albert Nokole (ondervoorsitter), Japie Pockpas (hulpsekretaris), Caylin Daniels (kassier), Philip Rensburg (addisionele lid), Greg Baartman (mediabeampte), Beatrice Klatie (addisionele lid). Foto: Wyndham Ewerts
Hierop het Perseverance se bestuur gesê dat dié klub nooit tot regsaksie sou oorgaan om antwoorde te eis as hulle geweet het dat dit slegs die SWD-rugbyunie is wat die finale antwoord kan gee nie.
"Ons het herhaaldelike korrespondensie sonder sukses met Norman Oktober (voorsitter van die SWD Karoostreekliga) gevoer sonder enige sukses omdat hy tydens die Karoostreek se AJV ons klub se verteenwoordigers ingelig het dat die Karoostreek ons per e-pos sal inlig oor ons aansoek.
Hierdie feit is swart op wit aangeteken in die notule van die Karoostreek se AJV. Oktober het hom nooit gesteur aan ons navrae nie en ons ook nie gekorrigeer dat die SWD Karoostreek nie by magte is om met ons klub te kommunikeer oor affiliasie besluite nie, vandaar ons besluit om 'n skrywe via ons prokureur aan dié streek te rig."
Perseverance se bestuur het by navrae bevestig dat hulle tans besig is om regsadvies in te win sodat hierdie aangeleentheid in die hof beslis kan word.
"Ons wil net rugby speel en ons kennis en vaardighede terugploeg in die gemeenskap, dis al. Perseverance is 'n dorpspan en daarom kan ons ook nie verstaan hoekom ons nou met plaasspanne in die landelikeliga moet meeding nie."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'