RUGBY NUUS - Dis 'n uitgemaakte saak. Splinternuwe rugbyreëls is die voorland van plaaslike rugbyklubs nadat die Wêreld Rugbyunie onlangs 10 tydelike reëls goedgekeur het.
Hierdie nuwe reëls is uitsluitlik ontwerp om die Covid-19-oordraagbaarheidsrisiko's gedurende spel tot 'n minimum te beperk en sal deur SWD-rugbyunie geïmplementeer word sodra die nasionale regering die groenlig gee vir rugbywedstryde om weer hervat te word.
Die nuwe aanpassings in die reëls sal hoofsaaklik fasette soos skrum, losgemaal en verdediging raak waar die spelers se potensiële blootstelling aan die koronavirus op sy hoogste is.
Benewens die nuwe tydelike reëls beveel die Wêreld Rugbyunie ook bykomende higiëniese maatreëls vir speel- en oefenperiodes aan. Die voorgeskrewe oefenmetodes bepaal ook dat voorspelers apart moet oefen. 'n Hoërisiko-oordragaktiwiteit soos 'n skrum van agt persone moet teen die skrummasjien uitgevoer word om blootstelling te beperk. So 'n tipe aktiwiteit moet ook volgens die riglyne glad nie twee dae voor 'n wedstryd beoefen word nie.
Hennie Baartman, president van die SWD-rugbyunie, het tydens navrae aangedui dat dié unie op voorskrifte van SA Rugby en die minister van sport wag voordat inligtingsessies aangebied sal word om rugbyklubs onder sy vaandel vertroud met die nuwe reëls te maak. Intussen sal wedstryde of rugbyoefeninge by dié unie se fasiliteite steeds streng verbied word.
Oudtshoorn se rugbyklubs het positief reageer op dié nuus van die nuwe reëls en gesê dat hulle enige maatstawwe ondersteun wat die veiligheid van spelers verseker.
"Op die oomblik is dit 'n kwessie van wag en kyk, want onder die huidige vlak 3 inperkingsmaatreëls is daar net soveel wat 'n speler of afrigter kan doen. Ek haal my hoed af vir enige speler wat steeds tydens die inperking dissipline gehandhaaf het om fiksheid te behou.
Dit kon beslis nie maklik gewees het nie. Wat die reëls se toepassings betref voorsien ek geen probleme van spelers oor die algemeen se kant af om dit so spoedig moontlik onder die knie te kry nie. Dis in elk geval net tot voordeel vir homself en sy onderskeie klub, het Damon Gysman, voorsitter van All Blacks-rugbyklub, opgemerk.
Die bykomende higiëniese-maatreëls is:
- Voorkoming van spuug en neusblaas.
- Voorkoming van samekoms van spelers op die veld en vieringe wat fisiese kontak insluit.
- Verpligte hand- en gesigsanitisasie voor en na die wedstryd.
- Aparte waterbottels vir elke speler.
- Gereelde sanitering van die rugbybal voor en na amptelike of oefenwedstryde.
- Voorkoming van omruiling van truie, kortbroeke en hoofbedekkings, waar moontlik, tydens rustyd.
Die tydelike nuwe rugbyreëls behels die volgende:
Skrums
Beperkinge op skrumopsies sonder skrum-hervestiging met 'n vryskop wat toegeken word aan die span wat in besit is van die skrum. Daar is ook 'n wysiging om die opsie van 'n skrum weg te neem as 'n strafskop of vryskop toegeken word. Die haker moet voortaan ook 'n rem-voet neerplant om die skrums te stabiliseer.
Verdediging
Voortaan sal 'n oranjekaart in plaas van 'n normale rooikaart vir 'n moontlike hoogvatoortreding getoon word.
Spelers wat met 'n oranjekaart gestraf raak sal van die veld verwyder word, hangende 'n TWB-hersiening (televisie-wedstrydbeampte) van dié voorval om te besluit of dit wel 'n rooi of geelkaart oortreding regverdig.
Indien die beslissing na hersiening wel as 'n rooikaart beskou word sal die betrokke speler nie weer terugkeer soos tans die geval is.
As dit slegs as 'n geelkaart beskou word, sal die speler na 15 minute kan terugkeer.
Losgemaal
Geen speler mag by 'n losgemaal aansluit as hy nie van die begin af betrokke was nie. Slegs een voorwaartse beweging sal toegelaat word.
Losskrum
Die tydsbeperking om die bal aan die basis van 'n losskrum te speel, is verminder van vyf tot drie sekondes, met die opsie om dié skrum weg te neem as 'n span nie die bal binne die toegelate tyd speel nie.
'n Vryskop sal dan aan die verdedigende span toegeken word as straf.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'