OUDTSHOORN NUUS - Een van Oudtshoorn se talentvolle atlete, Anderson Ngube (26), se drafloopbaan is besig om van krag tot krag te gaan na 'n string goeie vertonings die afgelope ruk.
Anderson vertel dat hy eers in 2014 begin het om vir die pret te draf waarna hy vir John April (bekende Oudtshoorn Comrades-atleet) ontmoet het.
"Ek het van toe af gereeld saam met John begin draf en hy het my die fynere tegnieke van draf geleer. Dit was nogal baie om alles in te neem want ek het nie geweet hoeveel aspekte mens aandag aan moet gee as jy die sport op 'n ernstige vlak wil beoefen nie. Dinge soos fiksheid, asemhalingstegnieke, eetprogramme, aanvullende vitamiene en oefenprogramme moes ek eers onder die knie kry, maar vandag is ek nie spyt nie. John het ook my eerste paar drafskoene vir my gegee en daarvoor is ek baie dankbaar - dit het my eintlik gepush."
Anderson sê dat sy vordering en fiksheid in 2018 op 'n hoë vlak was en dis toe dat hy besluit het om kompeterend te begin draf en ook gereeld onder die top-10 geëindig het.
"Kort daarna het ek heelwat kleiner wedlope gewen, maar my eerste groot oorwinning was verlede jaar in Kaapstad toe ek die 20 km Maxi-veldwedloop gewen het. Atlete van oor Suid-Afrika neem deel aan die gewilde wedren en niemand het my regtig 'n kans gegun om eerste te kom nie. Tot vandag toe is dit vir my 'n spesiale oorwinning. Dit het deure vir my oopgemaak omdat ek direk daarna ook 'n groot borgskap by Altra Running-maatskappy gekry het wat my drafskoene, aanvullende vitamiene en drafklere begin geborg het. Vanjaar se oorwinning in George by die Ultra-marathon het ek aan myself bewys dat ek consistent by groot wedlope kan perform."
Anderson se raad aan jonger atlete is om gefokus te bly op wat jy wil bereik. "Moenie na mense luister wat negatief is nie, en moet ook nie doen wat ander doen nie, want jy mag dalk die verkeerde voorbeeld volg. Geleenthede gaan kom, al is dit hoe lank, en ek is 'n sprekende voorbeeld," het Anderson beklemtoon.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'