OUDTSHOORN RUGBYNUUS - "Ons soek geen verskonings nie, maar dit was eenvoudig 'n slegte dag op kantoor."
Dit was die reaksie van Damon Gysman, voorsitter van All Blacks-rugbyklub, nadat Mosselbaai sy span Saterdag op Van Riebeeck-stadion uit die halfeindstryd van die SWD Presidentsliga geboender het.
Dié span se aspirasies om volgende jaar in die elite SWD Mic Fin Premierliga te speel, is ook eensklaps daarmee heen.
Hierdie ontydige nederlaag is veral gevoelig vir All Blacks-ondersteuners omdat die span vanjaar alles voor hulle platgevee het.
Die eindtelling van 36-29 vertel ook 'n verhaal van 'n wedstryd waar drieë na willekeur gedruk is. Volgens Gysman het sy span se probleme vroeg reeds in die wedstryd begin toe sy span geen antwoorde vir Mosselbaai se sterk pak voorspelers gehad het nie.
"Ons het weliswaar self vier keer agter die doellyn gaan kuier, maar die vinnige suiwer voorvoet-bal wat Mosselbaai se voorspelers aan hul agterlyn gevoer het, het ons verdediging telkemale oorhoops gehad. Teen die tyd toe ons hergroepeer het die telling reeds op 22-10 gestaan. Ons het ook 12 punte weens verbroude strafskoppe verbeur en dit het ons duur te staan gekom. In enige uitspeelwedstryd is dit sonde," het Gysman gesê.
All Blacks, wat daarvoor berug is dat hulle in die tweede helfte op alle silinders vuur, het so byna die kastaiings uit die vuur gekrap toe hulle op 'n stadium die tuisspan se voorsprong na 29-22 verklein het. Mosselbaai het hulle egter nie van stryk laat bring nie en laat in die wedstryd 'n beslissende verdoelde drie gedruk om die druk op All Blacks te hou.
Aan die einde van die dag was daar net te veel vir die swart truie oor om te doen in die beperkte tyd en moes hulle met 'n hartverskeurende nederlaag huis toe keer.
Sommige teleurgestelde ondersteuners het selfs die afrigtingskorps se besluit om nie al die plaasvervangers in dié wedstryd op te stuur, bevraagteken.
Hierdie taktiek sou glo nuwe energie bring wat die span soos in verlede week se naelbytwedstryd teen Spring Roses, dalk oor die wenstreep teen Mosselbaai gehelp het.
Gysman het in reaksie hierop geantwoord dat hierdie All-Blacks se ondersteuners dieselfde persone is wat regdeur die jaar doodtevrede was toe die span op die golf van sukses gery het. "Ons het slegs een wedstryd vanjaar verloor en bo-aan die Karoostreekliga se punteleer geëindig, maar noudat ons verloor word ons links en regs gekruisig.
Die afrigters het wel plaasvervangers volgens hul wedstrydontleding in spesifieke posisies opgestuur en die All-Blacks-bestuur staan bankvas agter daardie besluite"
Gysman het die versekering gegee dat alhoewel die spelers en ondersteuners nog hul wonde lek en uiteraard teleurgesteld is, sal die silwervaring beslis volgende jaar wéér hul spiere bult en hopelik oor die laaste ontwykende hekkies na die beloofde land (SWD Mic Fin Premierliga) spring.
All Blacks se algemene jaar vergadering (AJV) is 8 Oktober wanneer spelers en opbetaalde ondersteuners 'n nuwe bestuur vir 2020 sal verkies.
Mosselbaai speel nou teen Eagles van Sedgefield in die eindstryd wat gaan bepaal watter span na die SWD Mic Fin Premierliga bevorder gaan word. Die wedstryd skop Saterdag (môre) op Outeniquapark (George) af.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'