RUGBYNUUS - Twee rugbyspanne van die Groter Oudtshoorn het die naweek geskiedenis in hul eie klubs se bestaan gemaak toe hulle beide vir die eerste keer in 'n SWD Karoo-streekliga-eindstryd deelgeneem het, én boonop gelykop gespeel het, selfs na oortyd.
Young Leaves RFC van Waboomskraal en die Oudtshoorn-departement van korrektiewe dienste-span (DKD) het Saterdag 26 Augustus kragte gemeet in 'n naelbytwedstryd op die Dysselsdorp-sportterrein wat die skare permanent op hul voete met opwinding gehad het.
Die manne van DKD was al voorheen op die nippertjie om vir die eindronde van die liga te kwalifiseer, maar kon tot vanjaar toe nog nie suksesvol wees nie.
Die Young Leaves-span het met hul uitstekende seisoen vanjaar vir die eerste keer in die klub se geskiedenis tot die eindronde deurgedring.
Saterdag se wedstryd was 'n riller. Teen halftyd het beide spanne op agt punte elk te staan gekom en toe die eindfluitjie geblaas is was die telling 11-11.
Dit het veroorsaak dat oortyd gespeel word, met die skare wat beide spanne toegejuig en aangepor het. Selfs na die eindfluitjie finaal na die einde van twee ekstra helftes geblaas is, kon nie een van die spanne mekaar ore aansit nie.
Die spanne se verdediging was hard, en nie een het die ander selfs 'n klein kansie gegee om 'n wendrie of -skop aan te teken nie.
Brandon Titus, Young Leaves se hoofafrigter, sê hy is baie trots op sy span, veral omdat hulle in hul eerste eindstryd in die Karoo-streekliga ooit so goed gevaar het.
"Dit het nou nie presies gegaan soos ons beplan het nie, maar om saam te wen was eintlik wonderlik. Daar is gemengde gevoelens in die span daaroor, want die manne wou graag wen, maar weereens - om te kan sê dat ons in ons eerste eindstryd kon speel is vanself 'n uitstekende prestasie," voeg hy by.
Volgens Titus wag beide spanne nog vir terugvoering van SWD-rugby om uit te vind wie na die volgende liga toe gaan opskuif.
Hoofafrigter van die DKD-span, Fanie Olivier, het gesê sy manne is bietjie teleurgesteld, maar gelukkig oor die feit dat hulle hul eerste eindstryd ooit kon speel.
"Die manne het baie druk op hulle gehad en miskien verkeerde besluite op verkeerde tye gemaak, maar hulle het goed gedoen en ek is baie bly vir hulle. Nou wag ons om te hoor wat vorentoe gaan gebeur. Hulle het baie hard gewerk," sê hy.
Die voorspelers ding mee vir die bal in ‘n lynstaan. Foto's: Stefan Goosen
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’