OUDTSHOORN NUUS - Die SA Rugbyunie (SARU) in samewerking met die SWD-rugbyunie, bied eersdaags 'n opwindende munisipale-rugbyligatoernooi aan wat op 28 September afskop.
Hierdie toernooi sal sewe weke duur met die eerste opwarmingswedstryd wat reeds 14 September teen 'n Oudtshoorn-uitnodigingspan gespeel sal word.
Gekombineerde spanne van rugbyklubs onder die vaandel van SWD sal uit Oudtshoorn, George, Mosselbaai en Hessequa-munisipaliteite gekies word deur die aangestelde munisipale-afrigtingskorps om hul onderskeie dorpe tydens hierdie toernooi te verteenwoordig. Spelers wat die rugby-22tal vir dié wedstryde haal sal ook vergoed word.
Volgens die hoofafrigter van die Oudtshoorn-munisipaliteit se span, Keith Meyer, is al die klubs in die Oudtshoorn-omgewing versoek om hul spelers vry te stel om vir die span se oefeninge aan te meld.
Die munisipale-rugbyspan se afrigtingkorps is van links: Monroe Wilkens (agterspelers), Patrick van Vuuren (koördineerder), Keith Meyer (hoofafrigter) en Irvin van Wyk (voorspelers). Foto: Wyndham Ewerts
Oefeninge is reeds van verlede week elke Maandagaand om 18:00 volstoom by die Oudtshoorn-sportterrein aan die gang. Min spelers het egter tot dusver opgedaag.
Meyer sê dat verskeie talentvolle spelers reeds in voorafgaande wedstryde geïdentifiseer is.
"Ons as afrigtingskorps wil graag 'n groter poel spelers hê om 'n gedugte span saam te stel wat die trofee op die einde van die dag kan lig. Oudtshoorn-rugby se trotse reputasie is op die spel," het Meyer gesê.
Die finale Oudtshoorn-munisipaliteit rugbyspan moet reeds teen 16 September gefinaliseer wees omdat die eerste wedstryde van dié liga op 28 September gespeel word.
Indien klubs spelers nomineer om aan te meld vir oefeninge en daardie betrokke speler kan nie die betrokke aand opdaag nie, moet dié speler via sy klub se bestuur verskoning maak. Die klub sal dan die speler se voorneme om afwesig te wees, aan die munisipale-afrigtingskorps oordra.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'