KANNALAND NUUS - De-Andrè Meintjies (15) ,rugbyspeler en gr.10-leerder verbonde aan Ladismith Sekondêre Skool in Kannaland, gaan sy talent hierdie komende skoolvakansie in die Oos-Kaap uitstal.
Hy is as vleuel gekies vir die o.16 - SWD Arende se hoërskolespan wat vanaf Maandag 17 Junie aan die Grant Khomo -rugbytoernooi in Port-Elizabeth gaan deelneem.
Boonop het hy ook al SWD-Kleure in atletiek verwerf, waar hy veral in die naellope presteer.
Oudtshoorn Courant het met Meintjies en sy ouers, Godfrey en Lianna by hul ouerhuis gaan gesels op die vooraand van sy vertrek na Mosselbaai waar hy by die res van die span sal aansluit.
Meintjies het ook al voorheen aan die W.P-sewestoernooi asook die I-Qkhawe-toernooie deelgeneem.
Meintjies, wie baie opgewonde voor sy vertrek was, het sy afrigter van die skoolspan, Clayton Haupt, geloof vir die wyse waarop hy met die spelers werk en die manier waarop hy altyd die beste uit sy spelers kry.
Sy pa het sy dank aan die gemeenskap van Kannaland asook Ladismith Kaas-fabriek se Renaldo Groenewald uitgespreek vir die wyse waarop hulle sy seun ondersteun het.
Die Burgemeester van Kannaland , Jeffrey Donson, het Meintjies vanoggend (Vrydag 14 Junie) by sy kantoor ontmoet en hom sterkte en voorspoed toegewens.
Donsoin het ook `n finansiële bydrae tot Meintjies se koste gemaak. "Gaan maak nie net jou ouers trots nie, maar die hele Kannaland, " het Donson aan Meintjies gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’