OUDTSHOORN NUUS - Keagan Coerecuis (14), leerder verbonde aan Hoër Landbouskool Oakdale, (sportbeurs) is verlede week gekies om in September saam met die Blue Crane-rugbyspan in Italië te gaan toer.
Die Blue Crane-rugbyspan is 'n gekombineerde span wat gekies is na afloop van die Paarl Boys' High se rugbytoernooi wat van 16 tot 24 Maart plaasgevind het. Paarl Gimnasium, Paarl Boys High, Menlopark, Hoërskool Monument, Hoërskool Brandwag, Duineveld en Paul Roos was van die tradisionele swaargewig rugbyskole in Suid-Afrika wat deelgeneem het.
Keagan, wat sy laerskoolloopbaan by Laerskool van Reede op Oudtshoorn voltooi het, benodig egter R40 000 om saam met die span te gaan toer.
Volgens Keagan se ma, Sharoné Flemmer, sal dit broekskeur gaan om betyds die fondse in te samel sodat hy die toer kan meemaak. "Ek wil graag 'n beroep doen om enige individu of besigheid om my kind te ondersteun sodat hierdie gulde geleentheid om internasionale blootstelling te kry hom nie verby moet gaan nie."
Ons gesin sal ook binnekort begin woeker met braaivleiskaartjies en ander verkope in 'n poging om dié R40 000 bymekaar te skraap. Belangstellendes en barmhartige samaritane kan my skakel by 083 311 7231.
Coerecius se skoolafrigter, Lukas Holtzhauzen, het gesê dat die Hoër Landbouskool Oakdale breëbors is oor Keagan se insluiting in dié merietespan.
"Alhoewel hy gekies is op heelagter vir die span, glo ek dat sy veelsydigheid in die agterlyn sy grootste wapen is. Hy het voorwaar die potensiaal om eendag op provinsiale en selfs nasionale vlak rugby te speel, het hy gesê. Keagan is ook 'n kranige atleet wat onlangs Wes-Kaapse atletiekkleure verwerf het.
Verlede week het hy ook 'n algehele 5de plek (51,49 sek) in die 400 m vir seuns by die SA atletiekkampioenskappe in Port Elizabeth behaal.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'