OUDTSHOORN NUUS -Harlequins-rugbyklub se A-span is weer op die wenpad na 'n string nederlae die afgelope paar weke in die SWD Super A-liga reeks na 'n oorwinning van 31 - 24 oor Maori's.
Vir Harlequins het Jaylen Pretorius (2) en Rhupino Plaatjies met doelskoppe geslaag. Plaatjies. Romano Everts, Xhanti Nokoyo, Jenovin Fortuin en Gethwin Jonathan het agter die pale gaan kuier.
Harlequins se B-span het net-net met 30 - 29 verloor terwyl hul C-span met 10 - 10 gelykop gespeel het.
In nog 'n Super A-ligawedstryd het Bridgton in Mosselbaai met 37 - 31 teen Mosselbaai Barbarians verloor.
SWD Super B-liga
Collegians het die afgelope naweek met 31 – 34 vasgeval teen Albertinia Rangers. Die wedstryd is by die Bridgton-sportterrein gespeel. Collegians se B-span was ook die verloorkant met 15 - 21. Collegians se volgende wedstryd is Saterdag 22 Junie teen Uniondale United by die Bridgton-sportterrein
SWD Eerste Liga B-Oos
Die wedstryd tussen Oudtshoorn-rugbyklub en Willowmore wat verlede Vrydagaand by die Oudtshoorn-sportterrein plaasgevind het, is na slegs 10 minute deur die skeidsregter afgeblaas.
Volgens 'n inskrywing op Oudtshoorn-rugbyklub se Facebook-blad, het daar 'n insident op die veld plaasgevind waarna die skeidsregter die kaptein van Willowmore met 'n geelkaart gestraf het.
Oudtshoorn het in hierdie stadium met 5 - 0 voorgeloop. Volgens Willowmore se voorsitter, Cliford van Staden, het hy nie persoonlik die wedstryd bygewoon nie, maar is die voorval aan hom gerapporteer deur ander bestuurslede.
Hy sê dat hy in beginsel nie saamstem dat rugbyspelers van die veld af loop omdat hulle ongelukkig is met 'n skeidsregter se beslissing nie, maar dat Willowmore se bestuur die insident in die komende week, deeglik sal bespreek.
Ongeag die omstredenheid van die wedstryd, het Oudtshoorn steeds die volle wenpunte ingepalm wat ook aan die klub sy agste oorwinning van die seisoen besorg het.
Willowmore se volgende wedstryd is
29 Julie teen DKD Eagles in Willowmore terwyl Oudtshoorn op 22 Junie vir Zoar tuis pak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’