RUGBY NUUS - Harlequins-rugbyklub en All Blacks se A-spanne het die afgelope naweek Oudtshoorniete se harte warm laat klop deur onderskeidelik deur te dring na die SWD Super B-liga eindstryd wat op 11 November op Outeniquapark in George beslis sal word.
Die wenner sal aanstaande jaar by Bridgton-rugbyklub aansluit as die enigste twee klubs wat Oudtshoorn in die elite premierliga verteenwoordig.
In Harlequins se tuishalfeindstryd by die Infanterieskool se sportterrein het die tuisspan 'n wegholsege van 45 - 23 behaal teen 'n aanvanklike begeesterde Eagle Stars. Die halftydtelling was 21 -15 in Harlequins se guns.
Eagle Stars se pak voorspelers het gereeld die oorhand oor Harlequins gekry en was ook by tye gevaarlik met die bal in die hand veral in gebroke spel. Ongedissiplineerde spel het egter die besoekers duur te staan gekom wat Harlequins se skerpskutter, Keenan Easau, behoorlik uitgebuit het met sy kanonpoot. Esau het in die wedstryd 'n allemintige 24 punte aangeteken wat drie doelskoppe en ses strafskoppe ingesluit het.
In die tweede helfte het Harlequins met slim taktiese skopwerk kamp opgeslaan in Eagle Stars se helfte wat noodgewonge strafskoppe vir die besoekers tot gevolg gehad het. Vir Harlequins het Glenwill Lewis (vleuel), Leclue Barnard (haker) en Jesvin Booysen (plaasvervanger) agter die pale gaan kuier.
In die ander SWD Super B-liga halfeindstryd het All Blacks se A-span vir Seagulls met 37 - 32 geklop.
Ook All Blacks se B-span was aan die wenkant met 20 - 18 teen Sliver Stars.
Die heelagter Jaylin Pretorius word omgedop deur een van Eagle Stars se spelers.
Jonathan Gerthwin van Harlequins was 'n moeilike kalant om vas te trek.
Keenan Esau se akkurate skopskoen was verantwoordelik vir 'n allemintige 24 punte. Foto's: Ebenezer Titus
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’