OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn se Harlequins moes die afgelope naweek hul knie buig teen die Hampshires van die Oos-Kaap tydens die jaarlikse Paasnaweek-rugbytoernooi, aangebied deur Impact Sport Events NPC.
Die toernooi is vanjaar vir die derde keer op die Bridgton-sportterrein aangebied en het van 2 tot 6 April plaasgevind.
Harlequins, wat die eerste twee jaar die kampioene van die toernooi was, is hierdie keer met 27 - 21 deur die Hampshires in die bekerfinaal geklop.
Volgens Gysie Strydom, voorsitter van Impact en koördineerder van die geleentheid, was die toernooi ’n reusesukses.
“Donderdag het die wedstryde afgeskop met Harlequins teen Adias. Harlequins het gewen en ’n fantastiese spelpatroon getoon, maar Adias was ’n gedugte span en het hulle goed van hul taak gekwyt.”
Die All Blacks en Spring Roses het mekaar ook vroeg in die toernooi uitgedaag, met die Spring Roses as die uiteindelike wenners. Die wedstryd tussen die Hampshires en Oudtshoorn-rugbyklub het die dag afgesluit.
“Dit was ’n taai wedstryd, maar Oudtshoorn moes ongelukkig hul knie buig teen die Oos-Kapenaars,” het Strydom gesê.
Saterdag het die laer- en hoërskole hul wedstryde uitgespeel, terwyl ’n groep genaamd The Invincibles met hoërskoolleerlinge gesels het oor hul toekoms en lewenskeuses. Die groep bestaan uit voormalige gevangenes wat hul ervarings met die leerders gedeel het.
Maandag is die finale wedstryde aangebied.
Strydom beskryf die toernooi as ’n feestelike en betekenisvolle gemeenskapsgeleentheid.
“Ons doel is om jeug sportief saam te bring, by te dra tot misdaadsvermindering gedurende die Paasnaweek, families te verenig en ’n platform te skep waar jong atlete hul talent op ’n groter verhoog kan vertoon.”
Vanjaar se toernooi het vyf primêre skole se o. 13-spanne ingesluit: Sacred Heart, Bergsig, Colridge, Bongolethu en De Villiers. Vier sekondêre skole se o. 19-spanne het vir die eerste keer deelgeneem: Bridgton Sekondêr, Protea, Hoërskool Môrester en Aurial Kollege.
Agt volwasse rugbyspanne het besondere opwinding geskep. Ses spanne is plaaslik, insluitend Harlequins, All Blacks, Oudtshoorn, Spring Roses, Adias en Kavaliers, terwyl twee spanne van buite die dorp, Calitzdorp en Hampshires van Graaff-Reinet, die kompetisie versterk het.
Eindresultate:
Primêre skole: Sacred Heart wen teen Bergsig
Sekondêre skole: Bridgton Sekondêr wen teen Protea
Plaatfinaal: Oudtshoorn wen teen All Blacks (32 - 19)
Bekerfinaal: Hampshires wen teen Harlequins (27 -21)
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’