OUDTSHOORN NUUS - 'n Verbroude doelskop in die doodsnikke van die wedstryd het Bridgton se droom Saterdag aan skerwe laat spat in die halfeindstryd teen Evergreens.
Die besoekers van George het die wedstryd 23-22 gewen en deurgedring na die eindstryd om die Premierligabeker. Die skare kon al die oorwinning ruik nadat die stut W le Roux in die hoekie oorgebars het vir 'n kragdrie om Bridgton binne bereik van 'n oorwinning te plaas.
Heelagter, Anver Venter wat 'n afdag met die skoen gehad het kon egter nie die moeilike doelskop oorklits nie.
Venter, wat nie sy skopskoene saamgebring het nie, het egter oor die algemeen 'n goeie wedstryd gehad en Bridgton eerste bloed laat ruik met 'n pragdrie.
Net daarna het Evergreens met 'n strafdoel geslaag. Evergreens het Bridgton egter aan die slaap gevang en 'n verdoelde drie gedruk om die telling 10-5 te maak. Bridgton het net voor rustyd gaan druk om rustyd met 12-10 voor te loop.
Evergreens het in die tweede helfte met mening terug geveg en 13 onbeantwoorde punte aangeteken. Bridgton het eers 12 minute voor die einde Evergreens se wurggreep afgeskud en 'n onverdoelde drie gedruk.
Die laaste tien minute het Bridgton skitterend gespeel en Evergreens moes keer vir al wat hulle werd was. Net rotsvaste verdediging het gekeer dat Bridgton nog drieë aanteken. Le Roux het met sekondes van die wedstryd oor Bridgton se hoop om deur te dring na die finaal lewendig gehou. Venter het egter die skop regs verby die regoppaal laat trek.
Die eindfluitjie het na Venter se mislukte doelskop geblaas. Evergreens en Progress speel more (Saterdag) die finaal op Outeniquapark.
Keith Meyer, afrigter van Bridgton was baie teleurgesteld na die wedstryd.
"As ons die hele wedstryd gespeel het soos die laaste 10 minute het ons die wedstryd baie maklik gewen.
"Ons skrums was baie goed, maar ongelukkig het ons agterlyn nie in die eerste helfte oortuig nie. Ons skopwerk pale toe was ook swak. Ons spelers was ook onder geweldige druk om te presteer voor ons tuisskare.
"Ek kla nie maklik nie, maar die toeskouers wat daar was kan getuig dat ons aan die verkeerde kant van die fluitjie was. Volgens my horlosie was daar nog speeltyd na die doelskop oor. Dit het gevoel soos 'n wegwedstryd want al die faktore was teen ons.
"Ons is seergemaak, maar ons gaan nie bly lê nie.
"Ons wil ook dankie sê aan al ons getroue ondersteuners wat vanjaar deur dik en dun by ons gestaan het. Ons waardeer dit baie."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'