TUINROETE NUUS - Die Dotsure SWD Arende keer Saterdag 20 Junie terug na Outeniquapark vir wat beloof om een van die belangrikste wedstryde van hul Carling Curriebeker Eerste Divisie-veldtog te wees wanneer hulle die Valke ontvang.
Ná 'n dramatiese 44 - 38 bonus-punt-oorwinning oor die Luiperds in Potchefstroom, sal die Arende vol vertroue wees, maar ook bewus daarvan dat hul dissipline en konsen-trasie moet verbeter.
Die span van hoofafrigter, Heyneke Meyer het verlede week gewys dat hulle oor die vermoë beskik om van enige plek op die veld punte aan te teken, maar het byna die wedstryd laat glip toe hulle die laaste tien minute met slegs 12 spelers moes verdedig.
Die Valke arriveer egter in George met ewe veel selfvertroue.
Die span van die Oos-Rand het in hul openingswedstryd die OP Olifante met 49 - 28 afgeransel om hul titelaspirasies vroeg reeds duidelik te maak.
Die Valke en Arende deel tans die boonste plek op die punteleer saam met die Griffons, almal met vyf punte ná die eerste ronde.
Die stryd tussen die twee spanne kan moontlik reeds 'n aanduiding gee van wie later in die seisoen om die titel gaan meeding.
Vir die Arende sal die ervaring van Fred Zeilinga van onskatbare waarde wees. Sy spelbeheer en akkuraatheid met die skopskoen kan die verskil maak in 'n wedstryd waar elke punt tel.
Janus Venter sal weer voorlangs die voorbeeld moet stel, terwyl spelers soos Niel Beukes, Ulrich Stander en Rosco Syster hul goeie vorm sal wil voortsit.
Die Arende se plaasvervangers het verlede week 'n groot impak gemaak en Meyer sal hoop dat dieselfde diepte hierdie naweek weer na vore kom.
Die geskiedenis tussen die twee unies sorg altyd vir 'n mededingende kragmeting. Verlede jaar het die Valke op hul tuisveld die Arende met 54 - 26 geklop, maar in 2026 is die SWD Arende 'n perd van 'n ander kleur, met die SA Bekerreeks-wedstryd in April het hulle wegge-stap met 43 - 40 oorwinning.
Afskop is om 15:00.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’