RUGBY NUUS - 'n Groep rugbyspelers tussen 30 en 44 jaar oud, wat bekendstaan as die Golden Oldies, het verlede Woensdagaand by die Oudtshoorn-sportterrein 'n gedugte koshuisspan van Dagbreek in Stellenbosch op verrassende wyse met 31 - 17 met die kous oor die kop huis toe gestuur.
Die wedstryd is deur die Oudtshoorn-rugbyklub aangebied en is deur die klub se bestuur as 'n dawerende sukses beskryf.
Volgens een van die bestuurslede van die klub het die span van Dagbreek ook in Graaff-Reinet en in Cradock gespeel as deel van hul week lange toer.
In die wedstryd teen die Golden Oldies het dié plaaslike mengsel van ervaring en hardebaarde gewys dat daar nog sommer baie murg in hul bene is toe hulle die eerste helfte met 21 - 0 afgesluit het met reeds drie drieë in die sakkie.
By die afbreekpunte het die Golden Oldies ook gereeld die oorhand gehad wat beteken het dat Dagbreek met vertraagde balbesit tevrede moes wees wat hul momentum gestuit het.
Golden Oldies het egter die voet van die petrol in die tweede helfte afgehaal en gereeld plaasvervangers opgestuur om die ou bene vars te hou. In hierdie tydperk kon Dagbreek drie drieë van hul eie druk tot groot vermaak van die groot skare teenwoordig. Die wedstryd is in absolute goeie gees gespeel met die manne wat na die tyd blad geskud het en Dagbreek 'n veilige reis toegewens het.
Een van Oudtshoorn-rugbyklub se bestuurslede het bevestig dat daar nou beoog word om sulke toere en wedstryd meer gereeld plaaslik, die lig te laat sien.
"In die verlede het ons op 'n wisseltrofee, Die Volstruispoot, gespeel en is ons hard agter die skerms besig om weer die tradisie te herleef. Die was wonderlik om weer vure te sien hoog brand met gesinne wat die pawiljoen vol sit. Ons nooi graag besighede en klubs sowel as die breë publiek om ook deel te raak van hierdie fantastiese inisiatief."
Tydens die wedstryd is die legendariese "groen pawiljoen" se kroeg ook spesiaal vir die publiek oopgestel. Die "groen pawiljoen", wat oor die 100 jaar oud is, is op hierdie stadium gesluit vir publieke gebruik omdat daar planne in die pyplyn is om dit tot sy volle glorie te restoureer. Die bestuur sit ook tans met hul hande in hul hare oor die kwaaddoeners wat die kleedkamers se stortkoppe en slotte afsteel. In beide gevalle is die bestuur tans in gesprekke met die Oudtshoorn-munisipaliteit om 'n volhoubare en daadwerklike oplossing vir hierdie probleme te vind.
Pienaar Muller van die Golden Oldies (rooi) probeer die bal gaps. Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'