OUDTSHOORN NUUS - Na 14 jaar het Oudtshoorn-rugbyklub en George-rugbyklub mekaar die afgelope naweek weer die stryd op Oudtshoorn se tuisveld aangesê.
Rugbyondersteuners was dit eens - dit was 'n dag van groot gees, goeie rugby en sterk ondersteuning.
Uitslae
Die hoofwedstryd het gesorg vir 'n paar benoude oomblikke vir die tuisspan, met George wat die kragmeting 33 - 14 gewen het.
Oudtshoorn se tweede span het egter met 25 - 5 gewen, terwyl die derde span ook hul wedstryd oortuigend met 38 - 7 beklink het.
Volgens Harry Coetzee, afrigter van Oudtshoorn se eerste span, speel die span vanjaar in 'n hoër liga en pak hulle gevolglik sterker teenstanders aan.
"Daar is heelwat spelers in die George-span wat uit gevestigde rugbyskole soos Oakdale en Outeniqua kom, wat van hulle 'n besonder sterk en fisiek dominante span maak. Dit was 'n harde wedstryd. Ons was voorbereid, maar hulle het ons fisiek oorheers," het Coetzee gesê.
Hy sê Oudtshoorn het vroeg onder druk gekom en duur betaal vir dissipline foute.
"Ons het sewe strafskoppe binne die eerste 15 minute afgestaan, wat ons momentum gebreek het. Ons was op 'n stadium 28 - 0 agter en teen rustyd 28 - 7.
Dit was werklik 'n kragmeting van hoë gehalte."
Volgens hom het die tuisspan ná rustyd beter teruggeveg en meer gebiedsvoordeel geniet, maar die skade was reeds gedoen.
"Die eerste helfte het ons gekos. Dit is beslis iets waaraan ons sal moet werk. Tog was dit 'n baie goeie rugbydag en ondersteuners het ná die tyd saamgestem dat dit 'n besonderse geleentheid was," het hy gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’