OUDTSHOORN NUUS - Die jaarlikse FNB Classic Clashes tussen Langenhoven Gimnasium en Hoërskool Oudtshoorn was die afgelope naweek weer 'n hoogtepunt op die plaaslike sportkalender.
Leerders, ouers, oudleerders en ondersteuners van beide buurskole het in groot getalle opgedaag om deel te wees van die gewilde derbynaweek waar tradisie, trots en gesonde mededinging sentraal gestaan het.
Soos elke jaar het die wedstryde nie teleurgestel nie en is dit in uitstekende gees beslis.
Die hoofwedstryd tussen die twee skole se eerste rugbyspanne het vir groot spanning gesorg en ondersteuners tot op die laaste oomblik op die punt van hul stoele gehou. Teen halftyd het Langenhoven Gimnasium met 'n skrale voorsprong van 17 - 16 voorgeloop.
Die tweede helfte het dieselfde intensiteit opgelewer, met albei spanne wat mekaar geen duim gegee het nie. Uiteindelik het Gimmies die kragmeting met 34 - 33 gewen in een van die mees opwindende derbies in onlangse jare.
Meer as net sport
Die skoolhoof van Langenhoven Gimnasium, Carl Snyman, het sy waardering uitgespreek teenoor almal wat die suksesvolle naweek moontlik gemaak het.
"Dit was 'n wonderlike naweek van sport en gesonde mededinging tussen twee trotse skole. Baie dankie aan elke speler, afrigter, ondersteuner en organiseerder wat deel was van die derby. Ons sien reeds uit na volgende jaar wanneer Struisies die gasheerskool van die FNB Classic Clashes sal wees," het hy gesê.
Langenhoven Gimnasium het Hoërskool Oudtshoorn bedank vir die uitstekende sportmangees en sien reeds uit daarna om die derbytradisie in 2027 voort te sit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’