OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn se eie Farrel-leigh Dido (18), 'n oudleerder van Langenhoven Gimnasium, is vir die WP Cravenweek XV-span gekies - 'n prestasie wat sy rugbyreis op een van die land se grootste skoolverhoë verder versterk.
Dido se insluiting in die span is die jong speler se jongste mylpaal in 'n veelbelowende rugbyloopbaan wat reeds oor verskeie provinsiale vlakke strek.
Volgens sy ma, Samantha Dido, het hy verlede jaar van Langenhoven Gimnasium na Hoërskool Durbanville in die Kaap verhuis nadat hy 'n merietebeurs van die skool aanvaar het.
Dido het reeds vir SWD op verskeie vlakke uitgedraf en homself gevestig as een van die streek se opwindendste jong talent.
Sy rugbyrekord sluit onder meer in verteenwoordiging van SWD tydens die Grant Khomo-week in 2024, deelname aan die SWD o. 17-sewespan in dieselfde jaar waar die span goud verower het, asook deelname aan die Akademieweek in 2025.
Na sy oorplasing na Hoërskool Durbanville in 2025 het hy voortgegaan om sy spel verder te ontwikkel, wat uiteindelik gelei het tot sy keuring vir die WP Cravenweek XV-span.
Cravenweek word beskou as een van die belangrikste skolerugbytoernooie in Suid-Afrika, waar topspelers jaarliks voor provinsiale en nasionale keurders speel in 'n poging om hulself op groter vlakke te bewys.
Vir Dido bied die toernooi 'n geleentheid om sy talent op nasionale vlak ten toon te stel en moontlik verdere deure in sy rugbyloopbaan oop te maak.
Sy ma het haar trots uitgespreek oor sy prestasie.
"As ouer is ek ongelooflik trots op Farrel. Sy keuring is die resultaat van jare se harde werk, dissipline en deursettingsvermoë. Hy dra nie net sy eie droom na Cravenweek nie, maar ook die trots van Oudtshoorn."
Sy het ook haar dank uitgespreek teenoor almal wat hom deur sy rugbyreis ondersteun het en in sy potensiaal geglo het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’