RUGBY NUUS - Verskeie wedstryde in die premierliga is die afgelope naweek (15 Julie) beslis en rugbyondersteuners was nie teleurgestel nie. As daar een ding is wat nou reeds soos 'n paal bo water staan: Eksterne faktore het die laaste sê in vanjaar se premierliga.
Evergreens vs Jaguars
Die speeloppervlakte was die doring in die vlees vir beide spanne. Erge reënval het die Suid-Kaap die afgelope paar weke getref en het die velde in haglike toestande gelaat.
Om aan te pas in hierdie jaar se klubrugbyveldtog, sal tot en met 14 Oktober 2023 (klubfinale op Outeniquapark) die geheime sleutel tot 'n suksesvolle en positiewe uitslag vir spanne wees. Die span wat die eksterne faktore kan beheer, gaan die eindresultaat van die wedstryd en seisoen bepaal.
Evergreens, asook die tuisspan, Jaguars, moes baie gou hierdie les leer toe hulle mekaar in Saterdag se wedstryd op Crags aangedurf het. Die speeloppervlakte het dit by tye vir beide spanne ontsettend moeilik gemaak om hul ritme te vind. Hier moet die span van Eddie Myners krediet kry vir die manier hoe hulle hierdie faktor baasgeraak het.
Llewellyn Treurnicht, losvoorspeler van Evergreens het voor die aanvang van die wedstryd gesê dat dit ‘n teken van onkunde sou wees om Jaguars te onderskat.
Die span van Crags, wat voor die wedstryd nog net twee uit hul 12 wedstryde kon wen, sou geen bedreiging vir die goed-geoliede span van Pacaltsdorp inhou nie. Tóg het Treurnicht dit duidelik gemaak dat hulle geensins besoek gaan aflê in Crags met ‘n arrogante houding nie.
Jaguars het goed begin en het aanval op aanval geloods en by tye selfs die toeskouers van Pacaltsdorp laat stilsit. Evergreens het geensins paniekbevange geraak nie en het koelkop gebly selfs toe die uitvoering van hul wedstrydplan nie effektief afgedwing kon word teen die passievolle Jaguars nie. Anton Smit, kaptein van Evergreens, en sy troepe beleef tans ‘n droom seisoen.
Dit is duidelik dat spelers inkoop by die plan wat die afrigtingskorps week na week op die tafel sit en dat hierdie span se sukses toegeskryf kan word aan goeie leierskap op die veld. Elke speler verstaan sy rol in die span en vat volle verantwoordelikheid vir sy posisie. Dit is tans die wenresep wat Myners en sy span bo hou.
Anton Smit (slot en kaptein) het weereens sy span met passie gelei. Dit was uiteindelik sy slotmaat, David Claassen, wat die kollig gevang het. Hy het rugby by tye so eenvoudig dóg genadeloos laat voorkom. Sy vreesloosheid by die afbreekpunte het hom soos ‘n paal bo water laat uitstaan. Hy was met elke faset van die spel ‘n irriterende doring in die vlees van Jaguars.
Die wedstryd het uiteindelik in die guns van die besoekers geswaai met ‘n bonuspunt eindtelling van 25 - 12.
Crusaders vs Blanco
Óf jy ‘n passievolle ondersteuner van Crusaders is en of jy hulle aanskou as jou ‘aartsvyand’, jy moet jou hoed afhaal vir die groep spelers. Hulle weet hoe om te wen.
Met die telling op 31 - 17 in die guns van die kampioene het dit gelyk asof die span van die gaatjie hulself moet regmaak vir ‘n vernederende loesing. Dit was nooit beskore vir Bevin Fortuin en sy span nie. “Die manne het ‘n wil om te presteer en dit is duidelik in die terugvegpoging van vandag se wedstryd," het die afrigter van Blanco na die nederlaag teen Crusaders vertel.
Net soos Evergreens, spog Blanco ook met goeie leiers binne in die kamp. Christo du Plessis, agsteman van Blanco, moet hier uitgesonder word. Sy harde woorde het die manne in maroen en geel laat besef dat dinge nie verby is tot die fluitjie geblaas het nie. “Ons sal moet wakker skrik as ons enigsins hierdie wedstryd wil wen.”
Menigte rugbykenners meen egter dat die kampioene se wiele besig is om af te val. Beslis nie nou nie. Afrigter Ricardo Beukes en sy span het dalk nie meer die vermoë om spanne van die veld af te vee met hoë tellings nie, maar hulle wen. Wie wil nie wen nie? Dit word ‘n kultuur. Hierdie span het sedert 18 Januarie in strawwe kompetisies deelgeneem.
Hul eerste stop was daar vêr in die Oos-Kaap, die Super 12-reeks. Toe dit nie genoeg was nie toe ry die manne verby die huis en gaan eet kerrievis daar in die Weskus by die gesogte Easter Saldana-toernooi. Hulle het uiteindelik besef dat hulle huis toe moet kom en dis waar hulle sommer moes wegspring met die jaarlikse SWD-premierliga.
Natuurlik sal die wiele pap raak, maar afval, nie nou al nie. Krake begin wys, bloot oor die spelers een toernooi te veel aangedurf het, opponente wat die krake kan ontbloot tydens ‘n wedstryd en dit oop vlek, staan ‘n vyf en sewentig persent kans om die wedstryd te wen, ‘n les wat ek vir seker glo die span van Parkdene kom leer het in hul onlangse nederlaag teen Evergreens.
Crusaders se ervaring bars uit die nate uit. Dit is die een groot rede hoekom hulle dit nog regkry om wenne weg te neem van hul opposie af, hulle het dit in beide groot derbies bewys.
Eers op die Pacaltsdorp en toe op Rosemoor-stadion, ervaring en ondervinding. Reinhardt Stears, plaasvervanger agsteman het na afloop van die wedstryd aan George Herald erken dat Blanco oor enorme kwaliteit spelers beskik en die vermoëns het om baie spanne se harte te breek binne die volgende agt tot nege weke voor die aanvang van die jaar se uitspeelrondtes.
Die fikste-, hardwerkende balspeler het geensins terug gehou toe dit kom by die skeidsregters in vanjaar se kompetisie nie.
Progress vs Bridgton
Die blou kamp sal so gou as moontlik hulself in orde moet kry. Die klub is ontsettend ryk in geskiedenis en op die oomblik ervaar die mense in Rosemoor maar ‘n baie hartseer seisoen.
Anders as Evergreens en Blanco, bevind Progress hul tans sonder bekwame leierskap en eienaarskap binne in die span en dit is week na week duidelik sigbaar as jy so na die eindtellings kyk. Progress kon net in vyf uit hul 14 wedstryde tot op hede koning kraai. Niks weggeneem vanaf die span van Bridgton nie.
Wanneer die volstruise in hierdie ‘bui’ is, is daar geen keer aan hulle nie. ‘n Span wat definitief sterk aanspraakmakers is om wonderbaarlik in die vierde posisie in te kom sou die hekke van hierdie jaar se premierliga gesluit word. Brak staan egter in hul pad.
Progress het in die doodsnikke ‘n strafskop gekry en die bal getik, in die teenstanders in gehol en die bal verloor en ook uiteindelik die wedstryd met vier punte verloor.
Moes hulle die lynstaanopsie oorweeg en geduld aan die dag tot toon sodat hulle Bridgton forseer om foute te maak binne in die ‘striking zone’ en moontlik die wen drie aan teken? ‘n Wen wat vir seker baie vir Progress sou beteken het. Gedane sake het geen keer nie. Siniese strafskoppe knou tans Progress week na week. Bridgton het waardevolle vier punte huis toe geneem deur die wedstryd 18 - 14 te wen.
George wys passie
George het weer die passie getoon in hul wedstryd teen Riversdal Blues waaraan hul toeskouers gewoond is. Dit was veral die afrigter, Anton Leonard se seun, Stefan Leonard (haker) wat nie ‘n voet verkeerd kon sit nie. Sy basiese spel en sterk effektiewe kraglopies was die verskil op die dag. Hy is aangewys as speler van die wedstryd.
Francois Kemp het van vooraf gelei en was gesamentlik met Stefan die ommeswaai in Saterdag se oorwinning teenoor Riversdal Blues.
Die losskakel. Lehogan Botha het met een strafskop en vier doelskoppe geslaag. Die flank, Jason Martiens het twee keer gaan kuier agter die Blues se doellyn.
George wen Blues, 43 - 34.
Groot-Brak klop Barbarians
Brak het Barbarians, Mosselbaai geklop met 49 - 0. Heidelberg het maklik met Maoris afgereken en die manne van Borcherds, op Heidedal Primêr se veld met 48 punte teenoor Maoris se 25 geklop.
Wat wag?
Die premierliga is tans op sy warmste. En dit gaan sommer nóg warmer word. As jy nie teen die tyd die hitte kan hanteer nie, is ek bevrees dat jy gaan verbrand na aan die einde van hierdie seisoen toe.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’