OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn-rugbyklub het verlede Vrydag daarin geslaag om hul eerste wedstryd in die Presidentsliga teen Harlequins met 15-5 te wen. Die rustydtelling was 10 -0.
Volgens Keith Meyer, Oudtshoorn se hoofafrigter, het hanteerfoute aan beide kante verhoed dat enige span volle beheer oor die wedstryd gehad het.
"In die skrums was ons agttal sterk en in die lynstane het dinge baie beter verloop as in ons eerste kragmeting 'n week vroeër."
Harlequins het, ten spyte van hul nederlaag teen Oudtshoorn, baie beter gevaar as in hul eerste wedstryd teen All Blacks.
Vir Oudtshoorn was Nagel Niemandt (slot) en Timo Windvogel (flank) kookwater terwyl Emile Lambrecht (nr. 8) weereens 'n kapteinsbeurt gespeel het met sy breekslae en plettervatte.
Agterlangs het die twee nuwelinge Clifton Claassen (heelagter) en Fernando Tiemie (senter) hul opponente telkemale na die lug laat gryp met hul vaart en aftrappe na beide kante terwyl Jevano van Vuuren (skrumskakel) se die diens altyd flink was.
Tiemie was ongelukkig om nie in die eerste helfte, vir wat 'n skitterdrie sou wees, oor te gaan nie.
Claassen het egter sy kans benut en het met 'n solo-lopie, na 'n goeie agterlyn beweging van die halflyn af, vir 50 meter deurgenael vir 'n pragdrie wat ook deur Anru Tolken (losskakel) verdoel is.
Harlequins het in die tweede helfte sterker terug baklei en aanval na aanval is in die 58 ste minuut met 'n onverdoelde drie beloon.
Jacques van Zyl en Heini Agulhus van Harleuins was sterk op die verdediging, maar Patrick Olckers kon daarin slaag om deur die gat te hardloop.
Oudtshoorn het egter kort hierna geantwoord met 'n drie van die flank Nathan Stoffels (flank). "Oudtshoorn het met die oorwinning 'n welverdiende vier punte verdien en staan tans op ses punte na twee wedstryde," het Meyer gesê.
Volgens hom was hul basiese spel beter.
"Te veel hanteer foute en swak kommunikasie op die aanval en verdediging het ons planne ietwat belemmer."
Irvin van Wyk, Harlequins se afrigter, het gesê die span se besluitnemingsprosesse en uitvoering is wat die span Vrydag gekniehalter het. "Ons skopwerk was ook 'n groot probleem."
Volgens hom was Jacques van Zyl, die span se senter, se verdediging puik.
"Jaylin Pretorius het as agterspeler uitgeblink en Jeswin Booysen, ons flank, het homself ook goed van sy taak gekwyt."
Die puntemakers vir Oudtshoorn was Clifton Claassen en Nathan Stoffels wat vir die drieë gesorg het en Anru Tolken wat een doelskop en een strafskop tussen die pale gejaag het.
Angelo Mondjies was die enigste speler wat punte vir Harlequins aangeteken het toe hy 'n drie gaan druk het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'