OUDTSHOORN NUUS - Bridgton-rugbyklub het die afgelope naweek die eerste Keanin Esau Memorial Cup aangebied. Hulle het teen Harlequins Forces RFC te staan gekom. Hierdie wedstryd was ter ere van die ontslape Keanin Esau, ’n geliefde speler wat vir beide spanne uitgedraf het.
Esau is in Mei verlede jaar ná 'n kort siekbed oorlede. Hy word onthou as ’n toegewyde rugbyspeler en ’n liefdevolle vader vir sy drie kinders: Shadrin Steven Thomas Esau, Scott Timothy Messina en Kaycee Hope Esau. Sy vrou, Sasha Esau, het die geleentheid saam met hul kinders bygewoon.
Na afloop van die wedstryd het Shadrin namens die familie sy dank uitgespreek teenoor almal wat die dag moontlik gemaak het.
As deel van die huldeblyk is R3 000 op elkeen van Keanin se kinders se skoolfonds oorbetaal. Volgens Leëzl Wilkens, voorsitter van Bridgton-rugbyklub, het beide spanne saam hierdie bydrae gemaak, wat direk aan die skole oorbetaal is.
Wilkens het bevestig dat die Keanin Esau Memorial Cup ’n jaarlikse instelling gaan word.
"Volgende keer is dit Harlequins se beurt om die wedstryd aan te bied," het sy gesê.
Bridgton RFC het die wedstryd met 31 - 22 gewen, maar die ware oorwinning was die hulde wat gebring is aan ’n man wat diep spore in die rugbygemeenskap getrap het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’