OUDTSHOORN NUUS - Dysselsdorp Rangers-rugbyklub het die afgelope naweek die rugbyspan van departement korrektiewe dienste, DKD Eagles, by die Oudtshoorn-gevangenis se sportterrein in 'n vriendskaplike wedstryd met 14 - 5 geklop.
DKD Eagles het goeie rekenskap van hulself gegee en met opwindende hardloopspel die manne van Dysselsdorp gereeld op hul tone gehou.
Met ongeveer 10 minute se speeltyd oor, het Rangers egter die eerste en enigste punte van die eerste helfte aangeteken met 'n verdoelde drie na volgehoue spel deur hul voorspelers. Die eerste helfte eindig 7 - 0 in Rangers se guns.
Vroeg in die tweede helfte het DKD eerste bloed geruik en hul rekening geopen met 'n onverdoelde drie wat die telling op 7 - 5 te staan gebring het.
Met die wedstryd wat nou na enige kant kan swaai, het albei spanne vir sowat 25 minute hul doellyn jaloers beskerm.
Dit was egter Rangers wat die laaste sê sou hê in die wedstryd toe hulle, met tien minute se speeltyd oor, weer 'n drie gaan druk het wat suksesvol verdoel is.
Dysselsdorp Rangers wen dus 14 - 5.
William Belelie, afrigter van Dysselsdorp Rangers, het na die wedstryd gesê dat hy tevrede is met sy span se vertoning, maar dat hy graag vandeesweek met die kommunikasie van sy spelers met die skeidsregter wil werk.
"By die afbreekpunte en die losgemaal wag ook nog baie werk as ons voortaan ander spanne in hierdie aspekte wil domineer. Oor die algemeen is ek baie beïndruk met die opkoms van die spelers wat vir my wys dat die manne honger is.
"Wat die wedstryd self betref, wil ek DKD Eagles lof toe swaai vir 'n harde wedstryd. Ons sal mekaar beslis weer die komende naweek op dieselfde veld pak tydens die seweswedstryde," het Belelie bevestig.
Altesaam agt spanne waaronder Dysselsdorp Rangers, DKD Eagles, Beaufort-Wes, Glen Roses, Kango United, Young Leaves, White Roses Uniondale en Haarlem Swings sal die naweek in 'n sewesrugbytoernooi van die SWD Karoostreek-rugbyunie op DKD se sportterrein teen mekaar meeding.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'