OUDTSHOORN NUUS - Die A-span van die Bridgton-rugbyklub het Saterdag nog 'n nederlaag in die Top-8- kompetisie van die SWD-rugbyunie gely toe hulle met 28 - 44 teen die voorloper op die punteleer, Groot-Brakrivier, verloor het. Die wedstryd is in Groot-Brakrivier gespeel.
Die twee spanne het rustyd nog gelyk getrek met die telling op 18 punte elk, maar Groot-Brak het die tweede helfte oorheers vir 'n oortuigende oorwinning.
Vir die A-span het Craig Ellis, JP Duvenhage en Dehovine Johannes elk 'n drie gaan druk. Johannes het ook met twee doelskoppe en twee strafdoele geslaag vir 'n persoonlike bydrae van 18 punte.
Volgens Jason Abrahams, Bridgton se voorsitter, was al drie die wedstryde taai.
"Brak was verlede jaar se kampioene. Ons het geweet dit gaan nie maklik wees nie, en ek dink die wegwedstryd het dit ook bemoeilik. Ons manne het egter steeds hard gespeel."
Puntemakers van die B- en C-spanne is as volg:
Vir die B-span het Mervin Langeveldt agter die pale gaan kuier en Jaydun Samboer het twee drieë gaan druk. Jayden-Lee het 'n allemintige drie drieë verdoel en een strafdoel oorgeskop.
Vir die C-span het Natayniël Fillies gesorg vir een drie en twee strafdoele en Moustapha Esau het gesorg vir een strafdoel.
Volgens hom moet hulle die laaste drie wedstryde van die seisoen wen om 'n tuis eindstryd te verseker.
"Dit is moeilike wedstryde wat op pad is, ons spelers moet net kophou en hul beste gee soos hulle altyd doen."
Abrahams sê Bridgton reis die naweek na Blanco en hulle is slaggereed vir wat voorlê.
Bridgton se B- en C-spanne het ook die onderspit gedelf en onderskeidelik met 24 - 33 en 14 - 19 verloor.
• Bridgton reis Saterdag na Blanco.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’