OUDTSHOORN NUUS - Die 17-jarige Donay Williams, oorspronklik van Ladismith, is besig om sy merk op die rugbyveld te maak nadat hy op grond van sy talent op plaaslike vlak raakgesien is en nou sy skoolloopbaan met ’n rugbybeurs in Bloemfontein voortsit.
Williams is aanvanklik raakgesien terwyl hy vir die gekombineerde hoërskole-span van Kannaland gespeel het. Hy is later opgeneem in die SWD-span vir die nasionale Grant Khomo-week vir skole. Dit was tydens dié toernooi dat sy talent verder opgemerk is, en hy ’n rugbybeurs ontvang het.
“Meneer Glyn Bell het my talent in Ladismith raakgesien, en dit het daartoe gelei dat ek die SWD-skolespan gehaal het en teen die Sharks gespeel het. Ná dié wedstryd het ek die aanbod van ’n rugbybeurs ontvang,” vertel Williams.
Hoewel dit ’n groot aanpassing was om soveel kilometers van sy tuisdorp af te wees, het hy die geleentheid met albei hande aangegryp. Hy is tans ’n gr. 11-leerder aan Hoërskool Witteberg en verteenwoordig die skool met trots.
Donay Williams, derde van links.
“Aanvanklik is ek weens my lengte as te lig beskou en my spanmaats het my selfs geterg dat ek nooit die Cravenweek-span sou haal nie. Maar ek het hul monde gesnoer toe ek wel vir die span gekies is.”
Hoewel hy hoofsaaklik op vleuel speel, voel hy net so tuis op senter of heelagter. Hy spreek ook sy dankbaarheid uit teenoor sy spanbestuur in Kannaland en sy tante, Catherine Buys, wat ’n belangrike rol gespeel het in sy ontwikkeling en ondersteuning.
“Ek wil hulle bedank dat hulle in my geglo het en my gehelp het om hierdie droom te verwesenlik,” sê Williams beskeie.
Wat die toekoms betref, is Williams vasbeslote: “Solank ek beseringvry is, wil ek aanhou rugby speel en nog nuwe hoogtes bereik.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’