OUDTSHOORN NUUS - Impact Sport Events bied vanjaar vir die derde keer die Oudtshoorn Paasnaweek-rugbytoernooi aan.
Volgens Granwell Gysman, voorsitter van die organisasie, gaan die geleentheid nie net oor sport nie, maar vier dit ook die eenheid en gemeenskap wat rugby bring.
Die toernooi begin op Donderdag 2 April om 18:00 en strek tot Maandag 6 April.
Al die wedstryde vind by die Bridgton-sportterrein plaas.
Harlequins is die onoorwonne kampioene en sal weer deelneem, saam met sewe seniorklubs, vier hoërskole en ses laerskole.
Die seniorklubs wat meeding, sluit in All Blacks, Spring Roses, Harlequins, Hanshers van Graaff-Reinet, Oudtshoorn-rugbyklub, Calitzdorp, Caveliers van Schoemanshoek en Adias.
Die hoërskole wat deelneem, is Laerskool Protea, Hoërskool Môrester, Aurial Kollege en Bridgton Sekondêr, terwyl die laerskole De Villiers Primêr, Sacred Heart, Bergsig, Colridge View, Saturnus en Bongolethu Primêr is.
Saterdag word daar 12 wedstryde, eers tussen die laerskole en later die hoërskole gespeel. Sondag word 'n gospelkonsert in die Bridgton Sekondêr se skoolsaal aangebied.
Maandag is die finale dag, met spesiale eregaste wat 'n verrassing vir die publiek beloof.
Granwell Gysman nooi die gemeenskap uit om as gesin by te woon, saam gemeenskap te bou en die kruis van Jesus te vier.
Toegangsgelde:
• Volwasse: R30 pp
• Kinders: R20 pp
• Voertuie: R20
• Gospelkonsert: R50 pp
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’