Die A-span van Collegians kon verlede Saterdag op die SA Weermag-sportterrein daarin slaag om die span van Harlequins in 'n SWD-Presidentsliga wedstryd met 34-26 te klop.
Harlequins het eerste punte aangeteken toe hul stut oorgeduik het in die hoekie vir 'n drie wat deur hul losskakel verdoel is. Met die daaropvolgende inskop het Collegians die bal vinnig bemeester, en het die voor- en –agterspelers die bal lustig rondgegooi vir hul binne-senter (Gerthwin Jonathan Makshella) om 'n onverdoelde drie te druk.
Harlequins is aan die slaap gevang na 'n lynstaan wat Collegians gewen het wat die heelagter, Keegan Makshella, in staat gestel het om onder die pale te gaan druk wat hy self verdoel het.
Met die afskop van die tweede helfte, het Collegians meer aanvallend gespeel en is beloon met twee vinnige drieë wat deur hul skrumskakel, Shedwick Sauls, gedruk is. Een van die drieë was verdoel wat die telling op 26-7 in Collegians se guns te staan gebring het .
Harlequins het eensklaps met meer doelgerigtheid gespeel en is beloon met 'n onverdoelde drie in die hoekie. Telling 26 - 12.
Collegians se vleuel, Danovan le Roux, het direk daarna die bal pragtig uit die lug vanaf die inskop bemeester en deur die verdediging van Harlequins gebars om sy spanmaat, Jason Plaatjies deur te stuur vir 'n onverdoelde drie.
Telling 30-12. Met nog vyftien minute speeltyd oor het Collegians se senter, Cristefer Snyman, pragtig gebreek om oor te val vir sy drie.
Collegians het soos in die verlede in hul dop gekruip nadat hulle gerieflik voorloop het wat Harlequins in staat gestel het om twee verdoelde drieë in dié tydperk te druk. Eindtelling: 34-26.
Collegians se B-span het Harlequins B met 48-0 geklop. Collegians se volgende wedstryd is Vrydag 7 Junie teen Oudtshoorn-rugbyklub op die Bridgton-sportterrein.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'