OUDTSHOORN RUGBYNUUS - Collegians se A-span kan hulself gelukkig ag dat hulle verlede Saterdag in 'n SWD Presidentsligawedstryd by die Oudtshoorn-sportterrein teen Oudtshoorn-rugbyklub met 12-11 gewen het.
Indien die volstruise (agterosse in dié liga) al hul kanse benut het, kon hulle maklik as onwaarskynlike wenners uit die stryd getree het. Maar kom ons begin van voor.
Hierdie wedstryd het katastrofies vir ODN-rugbyklub begin toe een van hul spelers vir 10 minute van die veld gestuur is vir geoorloofde spel. Collegians het dadelik munt geslaan uit dié getalle voordeel toe hul senter Willem Goliath 'n onverdoelde drie gaan druk het sonder dat 'n vinger op hom gelê is.
Die volstruise was van toe af onder geweldige druk en selfs toe hul speler van die koelkas terugkeer kon hulle die momentum van die manne in blou en rooi nie stuit nie. Toe Donovan le Roux, blitsige vleuel van Collegians boonop tien minute later na 'n vloeiende agterlynbeweging uit sy eie kwartgebied vir sowat 60 m genael het vir 'n skitterende verdoelde drie, wou dit voorkom dat asof dit neusie verby is vir die volstruise.
Gino van Vuuren (skrumskakel) het egter laat in die tweede helfte 'n strafskop vir ODN oorgeklits en die spanne het gaan rus met die telling op 12-3.
Met die begin van die tweede helfte was swak verdediging as gevolg van oorgerustheid deur Collegians se agterlyn daarvoor verantwoordelik dat Clifton Claassen (heelagter) van ODN-rugbyklub in die hoekie kon oorval vir sy drie.
Gino van Vuurren, skrumskakel van Oudtshoorn-rugbyklub, het 'n strafskop in die laaste minuut van die wedstryd verbrou om 'n oorwinning aan sy span te besorg.
Van Vuuren het misluk met die doelskop en die telling was 12-8. Na goeie samespel deur die ODN se voorspelers wou Collegians by die bal by die afbreekpunte uit desperaatheid afneem, maar is een van hul spelers vir onkantspel gestraf. Van Vuuren het suksesvol pale toe aangelê vir dié strafskop wat die wedstryd in die weegskaal gebring het. Die telling 12-11.
Met die momentum wat nou na die volstruise verskuif het, het dié span verwoed vanaf enige posisie op die veld begin aanval. Collegians is wéér vir onkantspel gestraf. Van Vuuren het die strafskop waargeneem en tot almal se verbasing misluk.
Dit wou voorkom of die bal deur die doelpale se dwarslat is, maar die lynregter het beslis dat die bal regs verby getrek het. ODN se spelers het appèl aangeteken by die skeidsregter waarna hy aangedui het dat die beslissing finaal is.
In die laaste minuut van die wedstryd het die volstruise wéér 'n gulde geleentheid gehad om dié wedstryd te wen toe 'n strafskop aan hulle toegeken is.
Van Vuuren se poging was egter links verby met die skeidsregter wat die wedstryd direk daarna afgeblaas het. Collegians wen dus 12-11.Collegians se volgende wedstryd is eerskomende Saterdag teen Adias in wat beloof om 'n riller te wees.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'