OUDTSHOORN NUU S- 'n Graad 12-leerder van Bridgton Sekondêr, Diego Daniels, is vroeër vandeesmaand gekies om vanaf 18 tot 27 September saam met die nasionale Rhino o.19-rugbyspan in Brittanje (Wallis, Skotland en Engeland) te toer. Hierdie span is gekies na afloop van die Tony Stroops-rugbytoernooi wat vanaf 16 tot 23 Maart in Kaapstad (Brackenfell) aangebied is. Altesaam 37 hoërskoolspanne van oor die Wes-Kaap het aan die toernooi deelgeneem.
Volgens Diego het hy hom reeds verlede jaar 'n doelwit voor oë gestel om dié prestige rugbyspan te haal. "Ek wou bitter graag my skoolloopbaan op so 'n wyse afsluit, en nou kan ek snags skaars slaap so opgewonde is ek oor die vooruitsigte om in die buiteland te kan speel.
Volgend Diego is die toer saamgestel om jong Suid-Afrikaanse rugbyspelers internasionale blootstelling te gee sodat hulle dalk deur oorsese keurders raakgesien kan word. Die moontlikheid bestaan ook dat sommige van die talentvolle spelers moontlik 'n kontrak deur een van die welvarende rugbyklubs na skool aangebied kan word. Rugby is deesdae is beroepsport en in die hedendaagse ekonomiese klimaat sal so 'n aanbieding goud werd wees ten opsigte van hul ontwikkeling en rugbyloopbaan.
Diego benodig egter R41 840 om dié toer te kan meemaak. Die eerste paaiement moes reeds Donderdag betaal gewees het.
Enige persoon of instansies wat Diego wil help kan sy ouers by 081 050 9641 of 073 691 6056 skakel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'