OUDTSHOORN NUUS - Bridgton-rugbyklub het verlede Vrydag-aand in 'n volgepakte stadion by Die Plate, of te wel by die Bridgton-sportterrein, sy getroue ondersteuners se tone laat krul van plesier met aanskoulike hardlooprugby teen Willing Hearts van Prins Albert.
Dit was uit die staanspoor duidelik dat die manne in maroon lus was vir rugby na bykans twee jaar sonder die ovaal bal.
Volgens Hennie Baartman, president van SWD-rugby, is die besluit om klubrugby weer die lig te laat sien sedert die aanvang van streng Covid-19-inperkingregulasies, op 4 Desember 2021 deur die organisasie geneem.
Toeskouers moes by die hek bewys van inenting toon voordat hulle ingelaat is. Bridgton het albei sy vriendskaplike wedstryde teen Willing Hearts oortuigend gewen. Die A-span van Bridgton het in die hoofwedstryd Prins Albert met 17 punte teenoor 7 geklop.
Charlston Ewerts (vleuel) het twee drieë gedruk sowel as Bradwin Wanies (heelagter) wat agter die doellyn gaan kuier het. Bautros May was met 'n doelskop suksesvol. Bridgton se B-span het hul eweknie met 33 punte teenoor 5 oorrompel.
Wayne Jullies, Bridgton se woelwater flank was soos in die verlede weer 'n handvol op die aanval.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'