OUDTSHOORN RUGBYNUUS - Kliniese, afgeronde spel deur Bridgton-rugbyklub het Saterdag dié span in staat gestel om Jaquars-rugbyklub van Plettenbergbaai in 'n SWD MicFin Premierligawedstryd met 69-26 te oordonder. Bridgton, wat met sy afgelope vier wedstryde aan die verloorkant was, het reeds binne die eerste halfuur vier drieë opgestapel wat aan hulle 'n broodnodige bonuspunt besorg het.
Dit was van die begin af duidelik dat dit 'n moeilike middag vir Jaquars se spelers sou wees omdat hulle veral in die kontaksituasies glad nie opgewasse teen die maroentruie was nie.
Teen rustyd het 'n weghardloop-oorwinning vir Bridgton reeds na 'n blote formaliteit gelyk toe hulle reeds met 33- 14 voorgeloop het. In die tweede helfte was dit eenvoudig net eenrigtingverkeer vir die besoekers met die maroentruie se giftige agterlyn wat Jaquars se verdediging gereeld aan flarde geskeur het.
Vir Bridgton het veral Aden Murphy (agsteman) gereeld die oog gevang met sy stormlopies wat meters vêr veld vir sy span gewen het. Die vleuel, Duzill Avontuur en Adrian Booysen (loskakel), het ook goeie wedstryde beleef, terwyl die ervare Charlston Ewerts, met sy drie drieë in dié wedstryd gewys het dat hy soos rooi wyn net beter raak.
Die ervare Charlston Ewerts het drie drieë in die wedstryd gedruk.
Die enigste ligpunt vir Jaquars in die wedstryd was dat hulle ondanks die groot loesing 'n bonuspunt uit die wedstryd verdien het deur vier drieë te druk. Jakob Olkers , Bridgton-rugbyklub se nuutaangestelde afrigter van die A-span, het na die wedstryd gesê dat die klub se ondersteuners nog groot dinge van dié span in vanjaar se seisoen kan verwag.
"'n Mens kon duidelik die verhoogte intensiteit en houding in die spelers vandag opmerk en hierdie oorwinning is beslis 'n tree in die regte stap om Bridgton weer 'n gevreesde span in dié liga te maak."
Al Bridgton se rugbyspanne het Saterdag in splinternuwe truie gespeel wat deur Cell C en Gravity Sport geborg was.
Puntemakers vir Bridgton:
Rhupino Plaatjies(senter), Adrian Booysen(losskakel) en Carlo Jacobs(stut) het elk een drie gedruk. Bradwin Wanies (heelagter) en Duzill Anvontuur (vleuel) het elk twee keer agter die pale gaan kuier terwyl die groot held van die dag, Charlston Ewerts (vleuel), 3 drieë gedruk het. Anver Venter(senter) was suksesvol met een doelskop, terwyl die senter, Rhupino Plaatjies twee doelskoppe deur die pale gejaag het. Adrian Booysen (losskakel) het met drie doelskoppe geslaag.
Bridgton-rugbyklub se volgende wedstryd is Saterdag 18 Mei teen Silver Stars-rugbyklub in George.
Die spoedvraat Duzill Avontuur (vleuel) druk sy drie in die hoekie. Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'