OUDTSHOORN RUGBYNUUS - Bridgton se A-span het die naweek 'n broodnodige bonuspuntoorwinning behaal toe hy Blanco van George in 'n SWD Premierligawedstryd op die Bridgton-sportterrein met 41-24 geklop het.
Die tuisspan, wat tans deur 'n nuwe afrigter, Eldridge van Dyk afgerig word, het in hierdie wedstryd hul klas gewys en het reeds teen rustyd met 26-10 voorgeloop.
Alhoewel Blanco een van die agterosse in dié liga is, kan 'n mens nie die morele en sielkundige waarde van hierdie oorwinning onderskat nie.
Bridgton se groot toets wag egter Woensdagaand vir hulle wanneer hulle een van die topspanne (Crusaders) op die Bridgton-sportterrein pak.
Vir Bridgton het Bautros May (flank) en Wesley le Roux elk een drie gedruk. Thiren Stoffels (losskakel) en Anver Venter (senter) het elk twee drieë gedruk. Venter het ook met vier doelskoppe en een strafdoel geslaag.
Foto: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'