OUDTSHOORN NUUS - Bridgton-rugbyklub het Saterdag, ondanks die koue, nat en winderige weersomstandighede, 'n kragtige vertoning gelewer toe al drie hul spanne teen Riversdal Blues op dié klub se tuisveld gewen het.
Met oortuigende oorwinnings regdeur die dag het Bridgton gewys waarom hulle as van die sterkstes in die streek beskou word.
In die hoofwedstryd van die dag het Bridgton se eerste span, ondanks 'n rustyd-agterstand van 15 - 16 in Riversdal se guns, sterk teruggeveg en die tweede helfte heeltemal oorheers om met 'n kragtige 46 - 21 oorwinning van die veld te stap.
Dehovine Johannes was die ster van die dag vir die A-span met twee drieë, vier doelskoppe en twee suksesvolle strafskoppe. Verdere drieë is deur Francois Gelderblom, Sipho Ggcobo, Thabo Dyantyi en Brian Williams gedruk.
Bridgton se tweede span het ook hulle stempel afgedruk en met 21 - 17 geseëvier.
Kyle Taute het met drie strafskoppe en 'n doelskop bygedra, terwyl Ryden Jonkers en Sergie Oktober elk 'n drie gedruk het.
Die C-span het nie agtergebly nie en het met 36 - 29 gewen. Marcelino Walkies het twee drieë aangeteken, met Machall Bruintjies, Juverno Jonathan en Christo Blaauw wat elk ook agter die doellyn was. Jonathan het vier doelskoppe behaal en boonop 'n strafskop oorgeskop.
Die Riversdal Blues het tóg met waardigheid gespeel en verskeie van hul spelers het individueel uitgeblink.
Bridgton en Harlequins pak mekaar Vrydagaand in 'n derby op die Bridgton-sportterrein (Die Plate). Die wedstryd begin om 18:00 en kaartjies is beskikbaar by Bridgton Hardware. Kaartjies beloop R30 vir volwassenes, R10 vir studente en R20 vir hoërskoolleerders. Voertuie betaal ook R20.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’