OUDTSHOORN NUUS - Bridgton-rugbyklub het die afgelope naweek 'n uitstekende vertoning gelewer deur al drie hul wedstryde teen Riversdal Blues in Riversdal te wen.
Die A-span het 'n spannende wedstryd met 48 - 42 beklink, terwyl die B-span oortuigend met 43 - 15 geseëvier het. Die C-span het die dag se sukses afgerond met 'n 22 - 15 oorwinning.
Volgens Bridgton-rugbyklub se voorsitter, Leezl Wilkens, is dit iets besonder om met drie oorwinnings uit 'n wegwedstryd terug te keer.
"Al die spanne het hul alles op die veld gegee. Die gees onder die spelers was uitstekend en daar was duidelike vasberadenheid en spanwerk. Elke speler het sy rol met trots vervul," het sy gesê.
Wilkens het ook die rol van ondersteuners beklemtoon en gesê die aanmoediging langs die veld het 'n groot bydrae gelewer tot die positiewe atmosfeer van die dag.
Xhanti Nokoyo het net die doellyn voor oë. Foto: Dennis Karelse
"Dit was nie net 'n wedstryddag nie, maar 'n bewys van wat bereik kan word deur harde werk, dissipline en 'n sterk spangees. Ons neem waardevolle lesse uit die wedstryde en bou daarop vorentoe."
A-span puntemakers:
- Tyreje Pieterson - 1 drie
- Eugene Booysen - 1 drie
- Le-Urtis Luke - 2 drieë en 1 doelskop
- Juvanno Jonathan - 5 doelskoppe en 1 strafskop
- Ashwin Lucas - 1 drie
- Ethan Myners - 1 drie
- Vuyo Mboto - 1 drie
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’