OUDTSHOORN NUUS - Bridgton-rugbyklub se A-span het verlede Saterdag op 'n nat veld sy sesde agtereenvolgende oorwinning van die SWD Super-liga behaal toe hy Evergreens met 30 - 24 geklop het.
Weens gure weer was daar verwag dat die wedstryd nie veel drieë sou oplewer nie. Dit was egter nie die geval nie met beide spanne wat die bal redelik goed hanteer het in uitdagende speeltoestande.
Evergreens was met rustyd 14 - 10 voor. In die tweede helfte het die spel meer losser begin raak wat beide spanne soos 'n handskoen gepas het. Bridgton het egter enduit koelkop gebly om die wa deur die drift te trek.
Bridgton se B-span was ook aan die wenkant met 23 - 10, terwyl hul C-span ook Evergreens met 9 - 8 getroef het.
Met hierdie oorwinning beklee Bridgton nou die vierde plek op die algehele punteleer met 29 punte na slegs sewe wedstryde. Die twee topspanne, Barbarians van Mosselbaai en Blanco van George, het na nege wedstryde, 33 en 32 punte onderskeidelik.
Bridgton se drieë is deur Marshall Prins, Octavio Goliath, Ethan Myners en Dehovan Johannes gedruk. Johannes was in die kol met twee strafskoppe en twee doelskoppe.
Bridgton se volgende wedstryd is die naweek teen Heidelberg in 'n wegwedstryd.
In nog 'n Super A-liga wedstryd het Harlequins vir Progress in 'n wegwedstryd met 24 - 15 geklop. Hierdie sege plaas Harlequins in 'n gunstige posisie om die top-8 van die liga te haal wat in die uitspeelwedstryde betrokke sal wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’