RUGBYNUUS - Bridgton-rugbyklub se A-span het verlede Saterdag in 'n SWD Super A-ligawedstryd vir Blanco van George met 33 - 29 by die Oudtshoorn-sportterrein gewen.
Met hierdie bonuspuntoorwinning het Bridgton nou na die vierde posisie op die algehele punteleer geskuif met 26 punte.
Na agt wedstryde is Evergreens (George) eerste met 37 punte, Heidelberg tweede met 33 punte en Groot-Brakrivier, derde met 26 punte. Crusaders is in die vyfde plek, maar hulle het drie wedstryde minder gespeel en het al reeds 25 punte.
Dit blyk dus in hierdie stadium dat indien Bridgton die uitklopwedstryde wil haal, hy van nou af al sy wedstryde moet wen insluitend die huidige topdrie plus Crusaders.
Die wedstryd teen Blanco is deur hard-looprugby gekenmerk met beide spanne wat voortdurend, soos die telling aandui, bereid was om die bal lug te gee. Bridgton se vlugvoetige losskakel, Craig Ellis, was die spil waarom al die tuisspan se aanvalle gedraai het. Dan was Bridgton se veelsydige agterspeler. Willem Jaftha, ook soos gewoonlik 'n doring in die opposisie se vlees.
Jaftha, wat verlede jaar nog vir by All Blacks in die Super B-liga uitgedraf het, se spel het vanjaar van krag tot krag gegaan. Hy is ook tans die voorste driedrukker in die Super-A-liga.
Nog twee spelers wat hul kant deeglik gebring het was die senter en kaptein, Adrian Booysen asook die agtsteman, Anver Venter. Veral Venter se transformasie vanjaar vanaf veelsydige agterspeler na agsteman, is deur die klub se voorsitter, Phillip Goliath, as 'n meesterskuif beskryf.
"Dis duidelik dat Venter ontsettend baie in sy nuwe posisie gegroei het en dit dan ook sy eie gemaak het. Normaalweg vat dit drie tot vier spelers om hom grond toe te bring. Daar is selfs by geleenthede tye dat hy jou laat dink het aan die dae toe hy 'n senter was. Ook ons 20-jarige heelagter Jaden Lee Moos is se akkurate stelskoppe is van groot waarde omdat hy van enige plek binne die halfgebied die bal met gemak kan oor klits. Hierdie kwaliteit van hom maak hom goud werd vir ons omdat tight wedstryde gewoonlik deur skoppe op die einde van die dag bepaal word. Ons as bestuur en afrigtingskorps sien beslis 'n blink toekoms vir hom in SWD-rugby," het Goliath gesê.
Goliath het bygevoeg dat die afrigters vandeesweek sal werk aan die areas waar daar tans tekort skiet. Hy het ook sy tevredenheid uitgespreek met die Bridgton se huidige wenpersentasie en gesê dat die klub definitief 'n opwaartse kurwe toon in vergelyking met verlede jaar se power rekord toe die einste span, slegs sewe uit 21 wedstryde kon wen.
Daar moet ook 'n lansie vir Blanco gebreek word; dié span van George se voor - en agterspelers het mekaar goed gekomplimenteer en die span kan homself ongelukkig ag om hierdie wedstryd te verloor.
Bridgton se puntemakers is as volg:
- Jaden-Lee Moos was suksesvol met drie strafskoppe en twee doelskoppe.
- Adrian Booysen en Anver Venter het elk 'n drie gedruk. Willem Jaftha het twee keer agter die doellyn gaan kuier.
- Bridgton se B-span was ook aan die wenkant met 17 - 13.
- Ook die C-span was seëvierend met 9 - 5.
Craig Ellis, losskakel van Bridgton glip deur 'n gaping.
Die slot Stephan Malan het 'n barshou gespeel.
Duzill Avontuur, haastige vleuel van Bridgton was 'n moeilike kalant om vas te trek. Foto's: Ebenezer Titus
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’