DYSSELSDORP RUGBY NUUS - Die eerste span van Dysselsdorp Rangers het Saterdag op sy tuisveld nog 'n bonuspuntsege in die SWD-Karoo-streekkompetisie behaal toe hy Korrektiewe dienste (DKD) in 'n spannende wedstryd met 31-19 geklop het.
Korrektiewe dienste het na 'n goeie eerste helfte met 14-12 voorgeloop, maar kon nie in die tweede helfte op die voorsprong voortbou nie.
Dit was Dysselsdorp se tiende oorwinning van die seisoen.
Die span van DKD het goeie rekenskap van homself gegee en die span van Dysselsdorp kon eers na die draaislag behoorlik aan die gang kom en het met meer vuur gespeel.
Die span het in die proses weer vyf drieë aangeteken.
Die sterk senter en voorste driedrukker van die seisoen, Donnie Makonie, het weer twee drieë gedruk.
Die kaptein Deidré Booysen, (senter), Eric Campher (agtsteman) en Marcelino Jaftha (haker) het elk een gaan druk.
Davestine Esau (heelagter) het drie drieë verdoel.
Volgens die hoofafrigter, Arnold Claasen, het niemand beter gespeel as Campher nie en is hy verdienstelik aangewys as speler van die wedstryd.
"Eric was op die aanval, verdediging en in die vastelos 'n doring in die DKD se vlees."
Agterlangs het Esau, Makonie en Booysen ook die bal sterk gedra.
Rangers B het ook ‘n bonuspunt oorwinning behaal, deur DKD-B met 46-10 te oorrompel.
"Die manne speel tans uitstekende rugby en die rugby in klub toon baie diepte en beloftes," sê Claasen.
Claasen en die klubvoorsitter, Andries Jacobs, skryf die oplewing toe aan dissipline, toewyding en goeie ambassadeurskap.
Die klub speel Saterdag 14 Julie tuis teen Swings van Haarlem.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'