Gallery
OUDTSHOORN RUGBYNUUS - Die Blitsbokke verdien om dieselfde behandeling én erkenning as hul eweknieë in die vyftienmankode te kry.
Só het Ian McIntosh, 'n gewese Springbok-afrigter, Vrydagaand tydens Hoërskool Oudtshoorn se rugbylegende-aand by Highgate-volstruisplaas aan die gehoor vertel.
McIntosh, wat as seremoniemeester tydens die geleentheid opgetree en ook saam met 'n viermanpaneel oor rugbysake gesels het, het die gehoor met sy skerp kwinkslae laat skater. Hy sê die Blitsbokke het die afgelope tyd gewys hoe trots hulle is om Suid-Afrikaners en Blitsbokke te wees.
"Hulle is ware ambassadeurs vir die nasionale sewesspan, op en van die veld, en vir die hele land. Hulle maak ons trots om Suid-Afrikaners te wees."
Die Blitsbokke het die Sevilla-sewes-toernooi gewen deur Austalië met 33-7 kaf te draf. Dit was die Blitse se sesde agtereenvolgende toernooisege in wêreldrugby se sewesreeks.
Marius Schoeman, bestuurder van die SA Rugby-sewesakademie, het die verhoog gedeel het met Siviwe Soyizwapi, die Blitsbokkaptein, Deon Davids, Springbok-voorspelerafrigter, en Johan Muller, voormalige slot en Springbokkaptein.
In druk gesprek oor rugbysake. Van links is Ian McIntosch (gespreksleier), Deon Davids (Springbok-voorspelerafrigter), Siviwe Soyizwapi (Blitsbokkaptein), Marius Schoeman (bestuurder van die SA Rugby-sewesakademie) en Johan Muller (voormalige slot en Springbokkaptein).
Schoeman sê die Blitsbokke se sege was weereens 'n ongelooflike poging deur 'n klomp spelers met groot harte en veggees. "Ek moet met Mac saamstem: die Blitsbokke maak SA weer trots. Die spelers is dalk klein van postuur, maar hulle deins nie terug vir groot uitdagings nie."
Hy het dit beklemtoon dat die Blitsbok-kultuur waaraan hulle deurlopend werk, een van die grootste redes vir hul sukses is. "Ons kry werklik talentvolle spelers by die sewesakademie, maar as hulle nie inpas of kan bydrae tot die Blitsbok-kultuur nie, sal hulle dit nie maak nie."
Daarmee saam, sê Schoeman, word 'n hoë premie geplaas op die spelers se fiksheid, ysere dissipline en hoë vaardigheidsvlakke.
Die paneellede was dit eens dat die sewesspelers danksy hul sukses en die dividende wat dit vir SA oplewer, dieselfde vergoeding as die vyftienmankode behoort te kry.
Mac sê die akademie doen ongelooflike werk om spelers vir die vyftienmankode voor te berei. "Kyk maar na spelers soos Cheslin Kolbe, Seabelo Senatla en Kwagga Smit wat die oorgang van sewesrugby na die vyftienmankode soomloos gemaak het. Die Blistbokke het dit bewys: hulle verdien gelyke behandeling."
McIntosh het Johan Muller ook uitgesonder as een van die mees onderskatte slotte wat SA al opgelewer het.
Daar was ook 'n veiling van rugbytruie en -balle ten bate van Struisies gehou.
'n Afrigtingskliniek is ook Saterdag by Struisies aangebied. Dis ook deur die SWD-vrouerugbyspan bygewoon.
Die gewese Springbok-afrigter Ian McIntosh verduidelik 'n taktiese beweging aan die eerstespan-spelers van Hoërskool Oudtshoorn tydens 'n afrigtingskliniek wat verlede Saterdag by dié skool aangebied is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'