OUDTSHOORN NUUS - Die SWD Premierliga-eindstryd tussen Barbarians en Bridgton op Outeniquapark in George het verlede Saterdag in een van die mees dramatiese eindstryde in onlangse tye ontaard, met Barbarians wat uiteindelik as wenners uit die stryd getree het.
Barbarians blitsig uit die blokke
Die Barbarians het so vroeg as in die vyfde minuut die bal wyd uitgeskuif en in die hoek gaan druk.
Die moeilike doelskop is oorgeklits, en danksy 'n vinnige daaropvolgende drie, het Barbarians vroeg 'n voorsprong van 14 - 0 opgebou - die ideale begin in 'n eindstryd met slegs 10 minute verstreke.
Bridgton se voete was in daardie stadium so swaar soos lood, maar in die 20ste minuut het die manne in maroen gevestig geraak en met mening begin terugveg.
Ná 'n reeks herhaalde stormlopies het hulle onder die pale gaan druk om die telling verskil tot 14 - 7 te verklein, wat dan ook die rustydtelling was.
Ná die speelbreuk het Bridgton 'n strafskop reg voor die pale afgestaan, waarna Barbarians hul voorsprong tot 17 - 7 vergroot het. Bridgton het kort daarna met 'n strafskop van hul eie geantwoord om die telling op 17 - 10 te staan te bring, met net bietjie minder as 'n halfuur se speeltyd oor. Barbarians het egter onmiddellik gereageer met nog 'n strafskop om hul voorsprong na 20 - 10 te vergroot.
Bridgton se slenter skok Barbarians
Toe volg een van die wedstryd se mees briljante oomblikke. Met sowat 18 minute oor het Bridgton weer 'n strafskop gekry. Hul bloedjong heelagter, Jayden Jafta (19), het aanvanklik die bal geplaas en voorgegee dat hy vir die pale gaan skop, maar het die bal eerder vinnig na die hoekvlag geskop waar 'n Bridgton-speler reeds gewag en oorgeseil het vir 'n drie - 'n beweging wat die skare heeltemal verras het.
Barbarians se verdediging was heeltemal onkant gevang terwyl hulle niksvermoedend onder die pale saamgetrek het. Die telling was nou 20 - 17, en van hier af was dit enige span se wedstryd.
Hierdie briljante taktiek het sterk herinner aan Cheslin Kolbe se stukkie vernuf toe hy tydens die Wêreldbekertoernooi in 2023 doodluiters op Thomas Ramos van Frankryk se doelskop met verbysterende spoed afgestorm het.
Of Bridgton se afrigtingskorps dit beplan het of nie, dit was voorwaar 'n taktiek waarop Bokafrigter Rassie Erasmus trots sal wees. Barbarians was egter nie van plan om te treur oor hul blaps nie en het feitlik onmiddellik teruggeslaan met 'n skoon lynbreek dwarsdeur die middel van die veld waarna hulle onder die pale gaan druk het. Die doelskop was 'n formaliteit en Barbarians het met 27 - 17 voorgeloop, met sowat 15 minute oor.
Jayden Jafta plaas die bal om aan te lê pale toe, maar skop op die laaste oomblik verby die pale hoek toe waarna sy spanmaat oorseil vir ’n drie. ’n Briljante taktiek wat Barbarians ontkant gevang het. Foto: Wyndham Ewerts
Hou senuwees, hou!
Bridgton het toe besef dis nou of nooit, en was hardnekkig op die aanval met vele fases van balbesit, maar Barbarians het die druk met kalmte geabsorbeer.
Van die kantlyn af het Bridgton se direkte benadering om hul voorspelers te gebruik om die voordeellyn oor te steek geboemerang, met Barbarians se groot voorspelers wat hulle eenvoudig fisies in hul spore gestuit het.
Elke keer as Bridgton egter die bal wyd gespeel het, was daar moeilikheid omdat dit gewoonlik swaar voorspelers uitput, veral in die laaste kwartier van 'n wedstryd. As is verbrande hout, maar hierdie tipe benadering kon dalk dividende vir Bridgton opgelewer het.
Met net vier minute oor het Barbarians selfs 'n skepskop probeer, maar die poging het langs die pale verbygegaan. Dit was egter gepas dat die laaste beweging van spel met 'n Barbarians-oorheersde skrum afgesluit is. Barbarians het die skrum totaal gedomineer en die bal daarna vir die laaste keer oor die doellyn gedruk om die laaste spyker in Bridgton se kis te slaan. Eindtelling: 32 - 17.
Daar was skaars tyd vir die doelskop om geneem te word voordat die eindfluitjie geblaas het omdat Barbarians-ondersteuners tesame met die spelers reeds op die veld begin feesvier het.
Barbarians-kaptein Bradley Sumaro het ná die wedstryd gesê die span het vooraf aan mekaar belowe dat hulle die beker sou lig.
Op die vraag wat die oorwinning vir die Mosselbaai-gemeenskap beteken, het Sumaro gesê dat dit ook een van hul doelwitte was om Mosselbaai trots te maak.
"Hierdie is vir Mosselbaai se mense. Vanaand gaan ons almal dit saam behoorlik vier want dis ook julle beker!"
Sumaro het ook vertel hoe die span ná rustyd een van hul ander slagspreuke toegepas het: "Ek sacrifice myself om 'n spanmaat beter te laat vertoon, met ander woorde ons speel vir mekaar ongeag die persoonlike koste," het hy gesê.
Die oorwinning het nie net die gesogte SWD-klubrugbytitel aan die Barbarians besorg nie, maar ook R50 000 se prysgeld.
Hoewel die A-span met die kampioenskap weggestap het, was die uitslae in die ander eindstryde minder gunstig vir die Baabas.
Bridgton se C-span het in hul eindstryd teen die Baabas met 20 - 16 geseëvier, terwyl Bridgton se B-span 'n naelskraapse oorwinning van 20 - 19 oor die span van Mosselbaai behaal het.
Geskiedenis
Leëzel Wilkens, voorsitter van Bridgton-rugbyklub, het op haar beurt gesê dit was 'n ongelooflike eer om die klub se drie spanne in die SWD Premierliga-eindstryde te sien speel en dit boonop vanaf die eerste posisie op die punteleer. Volgens haar is dit iets wat nog nooit voorheen in die geskiedenis van SWD of Bridgton gebeur het nie.
"'n Verloor verander nie die ongelooflike seisoen wat hierdie span gehad het nie. Ons het die dorp verteenwoordig, ons gemeenskap trots gemaak en 'n geskiedenis geskryf. Ons bou voort. Ons leer. Ons groei. En ons bly beter as gister."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’