OUDTSHOORN RUGBYNUUS - Twee leerders van Bridgton Sekondêr Ayden Kiewiets (18) en Rayno le Roux (16) is vroeër vandeesmaand gekies om vanaf 18 tot 27 September saam met die nasionale Rhino o.19-rugbyspan in Brittanje (Wallis, Skotland en Engeland) te toer.
Ayden en Rayno benodig egter R41 840 elk om dié toer te kan meemaak. Indien barmhartige samaritane 'n bydrae wil maak kan hulle 078 404 9306 (Ayden) en 073 967 6920 (Rayno) skakel.
Diego Daniels, oor wie die Oudtshoorn Courant in verlede week se uitgawe berig het, vorm deel van die trio van dié skool wat die toer sal meemaak.
Hierdie span is gekies na afloop van die Tony Stroops-rugbytoernooi wat vanaf 16 tot 23 Maart in Kaapstad (Brackenfell) aangebied is.
Altesaam 37 hoërskoolspanne van oor die Wes-Kaap het aan die toernooi deelgeneem.
Al drie hierdie spelers is dit eens dat die moontlikheid bestaan dat sommige van die talentvolle spelers op hierdie toer moontlik deur oorsese keurders raakgesien kan word en sodoende deur een van hul welvarende rugbyklubs 'n kontrak na skool aangebied kan word.
Rugby is deesdae 'n beroepsport en in die hedendaagse ekonomiese klimaat sal so 'n aanbieding goud werd wees ten opsigte van hul ontwikkeling en rugbyloopbaan.
Ayden Kiewiets (flank) in aksie met die bal. Foto's verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'