GEORGE NUUS - Die Dotsure SWD Arende begin hierdie naweek hul Curriebeker Eerste Divisie-veldtog met groot verwagtinge en die vaste voorneme om voort te bou op die vordering wat gedurende die SA Beker gemaak is.
Hoewel die span vroeër vanjaar net-net kwalifisering vir die Premier Divisie misgeloop het, het hul vertonings gewys dat die span besig is om in die regte rigting te beweeg.
Die Arende het teen sterk opposisie hul man gestaan en hul SA Beker-veldtog op ’n hoogtepunt met ’n oortuigende oorwinning oor die Luiperds afgesluit.
Een van die grootste faktore agter die span se verbetering was die invloed van hoofafrigter, Heyneke Meyer. Die voormalige Springbok-afrigter het sedert sy terugkeer na SWD nuwe energie, struktuur en selfvertroue in die groep ingebring.
Meyer sê die span se vordering is die resultaat van ’n gesamentlike poging.
“Die spelers verdien die meeste krediet. Hulle het die uitdagings aanvaar, die harde werk ingesit en is ongelooflik gretig om te leer en elke dag beter te word,” sê Meyer.
Nou wag ’n nuwe uitdaging. Die Curriebeker Eerste Divisie bied aan die Arende die ideale geleentheid om hul potensiaal in tasbare sukses om te skakel. Met die span wat as een van die sterk aanspraakmakers op die titel beskou word, sal daar egter geen ruimte vir selfvoldaanheid wees nie.
Meyer waarsku dat die eerste divisie ’n heel ander uitdaging as die SA Beker gaan wees. Volgens hom sal sukses afhang van die span se vermoë om week ná week gefokus te bly, die basiese beginsels reg uit te voer en die harde werk in te sit.
“Ons weet geen span gaan vir ons iets verniet gee nie. Daar is sterk spanne in die kompetisie en ons groepdiepte gaan behoorlik getoets word, veral met die beserings wat ons tans het,” sê hy.
Ten spyte daarvan is Meyer tevrede met die vordering wat die span sedert sy aankoms gemaak het.
“Ons is in ’n baie beter plek wat fiksheid en fisieke voorbereiding betref. Ons het ’n paar ervare spelers verloor, maar ook talentvolle jong spelers bygekry wat nuwe energie bring, maar wat my die meeste opgewonde maak, is die karakter wat in die groep ontwikkel het. Spelers begin meer verantwoordelikheid neem, leiers staan op en daar is ’n sterk bereidwilligheid om vir mekaar te werk en opofferings vir die span te maak,” sê hy.
Die Arende beskik oor die spelers om enige span in die kompetisie te verslaan, maar sal elke week dieselfde vlak van intensiteit en fokus moet handhaaf. Balbesit, dissipline en die vermoë om geleenthede in punte te omskep, kan die verskil maak tussen ’n goeie seisoen en ’n kampioenskapseisoen.
Die eerste toets kom reeds hierdie naweek, Saterdag 13 Junie om 15:00, wanneer die Arende in Potchefstroom teen die Luiperds uitdraf. Dit is die ideale geleentheid om vroeg ’n boodskap aan die res van die kompetisie te stuur.
Curriebeker Eerste Divisie-wedstryde:
20 Junie: Valke (George) 15:00*
27 Junie: Griffons (Welkom) - 15:00
4 Julie: Grens (George) - 15:00
11 Julie: OP Olifante (George) - 15:00
*Afskoptyd onderhewig aan verandering weens die Springbokwedstryd.
Die Arende se kaptein, Carel du Preez.‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’