RUGBY NUUS - Die Suzuki Griekwas het Saterdag hul posisie bo-aan die SA Beker-puntelys verstewig met ’n oortuigende 62 - 12 oorwinning oor die Dotsure SWD Arende op die Suzuki-stadion in Kimberley.
Met slegs twee rondes oor en die topvier wat outomaties vir die Curriebeker Premier Divisie kwalifiseer, was die kragmeting tussen nommer een en drie op die punteleer van kardinale belang.
Vir die Arende wag daar nou selfondersoek. Hulle keer die komende naweek terug na tuisbodem waar hulle die Luiperds aandurf in ’n deurslaggewende poging om hul plek in die topvier van die SA Beker te verseker.
Vertoning in Kimberley
Ondanks koel toestande en geen wind ná swaar reën vroeër die week, het die wedstryd Saterdag met ’n hoë tempo afgeskop.
Die Arende het vroeg hul voorneme gewys en reeds in die derde minuut die voortou geneem toe die nuweling Masende Mtshali oor is vir die eerste drie. Die doelskop deur Fred Zeilinga was egter onsuksesvol. Die besoekers het voortgegaan om druk toe te pas en hul oorheersing by die vaste fasette het vrugte afgewerp toe voormalige Griekwa, Xavier Swartbooi, in die 12de minuut hul tweede drie gaan druk, dié keer verdoel deur Zeilinga vir ’n 12 - 0 voorsprong.
’n Keerpunt het egter kort daarna gevolg toe ’n fout deur Zeilinga die tuisspan waardevolle gebiedsvoordeel besorg het.
Die Griekwas het die geleentheid benut met ’n dryfmaal-beweging wat deur Janco Uys afgerond is. Liam Koen se suksesvolle doelskop het die agterstand verklein.
Die momentum het vinnig geswaai toe Conor Mahoney kort daarna oor is ná ’n skerp teenaanval om die telling gelyk te maak op 12 - 12. Dissipline het aan beide kante begin verbrokkel, met geel kaarte vir Phumzile Maqondwana (Griekwas) en Gunther Janse van Vuuren sowel as plaasvervanger Dylan de Leeuw (Arende).
Met die ekstra speler-voordeel het die Griekwas hul houvas verstewig. Slot Malembe Mpofu het hul derde drie gedruk om die voortou te neem, voordat Moango Ngundue net voor rustyd die bonuspuntdrie afgerond het. Teen halftyd het die tuisspan reeds ’n 24 - 12 voorsprong opgebou.
Die tweede helfte het geheel en al aan die Griekwas behoort. Cameron Hufke het vroeg in die helfte gaan druk, gevolg deur nog drieë deur Sango Makata en ’n skitterende 80-meter lopie deur Damian Markus.
Verdere druk het gelei tot nog ’n drie vir Hufke, asook ’n tweede vir Mahoney, terwyl Dylan Maart die laaste sê gehad het met ’n drie op die eindfluitjie.
Die eindtelling van 62 - 12 weerspieël die Griekwas se oorheersing, veral ná rustyd waar hulle die Arende onder konstante druk geplaas en foute afgedwing het.
Die oorwinning bevestig hul status as verdedigende Curriebeker-kampioene en ernstige aanspraakmakers op nog silwerware.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’