OUDTSHOORN NUUS - Die SWD Arende het Saterdagmiddag hul derde oorwinning in die Curriebeker se Eerste-liga behaal deur die Welwitchias op die Hage Geingob-stadion in Windhoek met 36-32 te klop.
Rustyd was die Arende met 17-8 voor.
Die jongste puntestand is: Griffons 25 punte en punteverskil (+104), Luiperds 18 punte en punteverskil (+107), SWD Arende 17 punte en punteverskil (-6),Valke 16 punte en punteverskil (+1), Boland Kavaliers 14 punte en punteverskil (+12), Welwitchias 11 punte en punteverskil (-43), Grens Bulldogs 7 punte en punteverskil (-51),OP 4 punte en punteverskil (-124).
Die Arende, wat Saterdagmiddag om 14:00 teen die Boland Kavaliers op die Boland-stadion in Wellington te staan kom, baklei nou vir 'n plek in die halfeindronde.
Die Arende het ses pragdrieë in hul volpunte oorwinning gedruk.
Hul beste speler was Adi Jacobs (linkervleuel), wat as speler van die wedstryd aangewys is.
Martin du Toit (losskakel en kaptein) wat twee pragdrieë gedruk het, het 'n kapteinsbeurt gespeel. Sy taktiese skoppe, puik balverspreiding en leierskap onder moeilike omstandighede was goud werd.
Voorlangs het Dylan Peterson (agtsteman) en Kurt Haupt (plaasvervanger-haker), wat ook 2 pragdrieë gedruk het, gekook.
"Ons doelwit van vyf punte is bereik. Die span het baie karakter getoon deur feitlik die hele tweede helfte van die wedstryd met 14 man te speel.
Ons vaste fasette was baie goed en ons het hulle deurentyd onder druk geplaas.
Dissipline het ons soms in die steek gelaat asook omgekeerde besit.
Ek is baie positief oor die twee agtereenvolgende oorwinnings en ons kan beslis die momentum vat na die oorblywende wedstryde," het Rynard van As, hoofafrigter van die Arende, na die wedstryd aan die George Herald gesê.
Puntemakers:
SWD Arende 36 (8): Drieë - Martin du Toit (2), Kurt Haupt (2), Janneman Stander (flank), Jacques Vermaak (haker). Marlo van Niekerk (binnesenter) slaag met 2 doelskoppe en Leigh-ton Eksteen (heelagter) klits 'n doelskop oor.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'